Frank Opperman se talent skitter helder op verhoog in ‘Reünie’

Frank Opperman vertolk byna 15 karakters en raak sosiale kwessies soos tienerswangerskap, drankmisbruik en lyfstraf aan.

POLOKWANE – Met die bekende woorde “Woepsie se Wapsie is nog baie lief vir hom” het Frank Opperman reeds in die laat 1980’s bekendheid verwerf en hom tuisgemaak in Suid-Afrikaners se sitkamers.

Hy het die rol van Ouboet in Orkney Snork Nie, en gereeld gesorg vir komiese oomblikke op stel.

Meer onlangs kon hy gesien word in verhoogproduksies soos Die Klaagliedere van Ds. Tienie Benade, Die Uwe Pottie Potgieter en die nuutste produksie, Reünie.

Dit is dan ook met die verhoogstuk wat Opperman Vrydagaand die gehoor by N.G. Kerk Kremetart aan sy lippe laat hang het.

Opperman self was slegs by sy eie 10-jaar reünie, maar het homself in elke karakter se skoene gesit en so die gehoor bekendgestel aan die sleutelspelers by Hoërskool Totius se 40-jaar reünie. Die reünie is eers vier jaar later gehou aangesien Covid-19 ‘n stokkie voor alle byeenkomste gesteek het.

Opperman vertolk byna 15 karakters, waarvan die verteller Adam Boshoff een is.

“Ek gee om vir elkeen van die karakters, dis mense wat bymekaarkom,” sê hy.

Bekende karakters soos die hoofmeisie, dominee, die groot drinker en ouma van die jaar laat van hulle hoor op die verhoog. Selfs die kwaai onderwyser en Johantjie wat nou trots homoseksueel is, het met die gehoor gesels.

Vier-en-veertig jaar na die groep in gr. 12 was, kom lê daar waarhede oor die verlede voor hulle en maak hulle gebruik van hulle kanse agter die mikrofoon om te bely wat gebeur het.

Die verhoogproduksie is deur Dana Snyman geskryf. Opperman sê hy werk ook graag met skrywers soos Snyman, Jaco Jacobs, Harry Kalmer en Philip Rademeyer. Sy gunsteling produksie is Die Uwe Pottie Potgieter en ook Reünie.

“Ek hou van toneelstukke wat baie drama bevat. Die volgende toneelstuk wat ek aanpak is ‘n donker dramatiese stuk deur Wilhelm van der Walt met die naam Stinkhout.”

Tydens Opperman se vertoning het die trane oor sy wange geloop terwyl Boesman van die oorlog vertel, en hoe sy kop uitgehaak het. Hy raak sosiale kwessies soos tienerswangerskap, drankmisbruik en lyfstraf aan.

Boshoff sluit die aand af met die woorde “Ons lewe voorwaarts, maar verstaan terugwerkend en moet sin daarvan maak”.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version