Willem maak naam in Miljoenêr TV-reeks

Dié kompetisie word onder die wakende oog en mentorskap van Albert van Wyk gehou, wat sy eerste miljoen op slegs 22 jaar oud gemaak het.

POLOKWANE – Willem Nienaber is een van drie leerders van Hoërskool Pietersburg wat gekies is om hulle besigheidsbreinkinders op die TV-program, Maak My ‘n Miljoenêr, ten toon te stel om in aanmerking te kom vir ‘n stewige kontantbedrag tesame met ‘n paar ander pryse.

Dié kompetisie word onder die wakende oog en mentorskap van Albert van Wyk gehou, wat sy eerste miljoen op slegs 22 jaar oud gemaak het.

Hy het dit sy missie gemaak om as mentor op te tree vir hoërskoolentrepreneurs deur sy sakevernuf met hulle te deel.

Willem is tans in gr. 9 en die trotse eienaar van Willem’s Handyman Construction.

“Ek verrig klein konstruksieprojekte en doen opknappingswerk. Ek het in 2023 met die besigheid begin nadat ek oor naweke saam met my pa gaan werk het. Nou fokus ek in die week op my skoolwerk en naweke en vakansies werk ek aan my besigheid. Dit is nie altyd maklik om ‘n besigheid te bedryf nie, en dit verg baie moed en selfvertroue. Vir die kompetisie moes ek goeie entrepreneurskap en geduld ten toon stel.”

Willem sê sy pa, Dawid, is sy inspirasie aangesien hy hom alles geleer het wat hy vandag weet.

“Na ek gr. 12 voltooi het, beoog ek om my besigheid uit te brei en dan later oorsee te gaan boer. Wanneer ek dan terugkeer, wil ek my eie plaas koop.”

Willem moes ongelukkig aan die kompetisie onttrek, maar sê die feit dat hy onder die top 40-finaliste geëindig het, was vir hom net so goed soos ‘n wen.

• Die ander twee plaaslike hoërskoolentrepreneurs het teen druktyd nie terugvoer gelewer oor hulle projekte nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version