100 gouejare vir Tannie Alida
“Ek het al nege kleinkinders, 16 agterkleinkinders en twee agter- agterkleinkinders,” spog die trotse ouma.
MOKOPANE – Alida Prinsloo, wat op 8 Julie haar 100ste verjaarsdag gevier het, vertel aan Bosveld dat die lewe darem nou te vinnig by haar verbygaan.
“Die wêreld is deurmekaar en ek sukkel om by vandag se lewe aan te pas,” vertel Tannie Alida, in nabetragting oor ‘n ryk en geseënde lewe.
Sy vertel dat sy in 1924 as Human-dogter in die koue hoëvelddistrik van Delmas gebore is, waar sy grootgeword het op ‘n plaas buite die dorp.
“Ons is gebore boeremense en het in die tydperk van die ossewaens, karweiwaens en Voortrekkerrokkies grootgeword,” vertel sy.
Met nostalgie onthou sy hoe sy en haar broer altyd met die karweiwa van die plaas af skool toe gery het, terwyl dit nog donker was, “en soos boeties maar is het hy gereeld vir my weggery en moes ek maar agterna kom,” skerts sy.
“My vroegste herinnering was die groot haelstorm wat ons getref het. Ek moes onder die tafel wegkruip want die dak was weg.”
Tannie Alida sê in daardie jare was daar nie iets soos matriek nie, net standerd agt wat sy aan Hoërskool Delmas voltooi het en haar grootste uitdaging op skool was hoogspring op ‘n nat veld.
Twee jaar later het haar man, Martinus haar voete onder haar uitgeslaan op ‘n kampuitstappie. Die twee het die knoop deurgehaak en vertroue en baie liefde was hul visie vir ‘n gelukkige en vol huwelik.
Die egpaar het met erfgeld ‘n plaas in die Roedtandistrik gekoop en so in die bosveld beland, vertel sy.
Uit hulle huwelik is een seun en twee dogters gebore.
“Die kinders is almal later getroud en het hul eie lewens gelei.” Sy voeg by dat albei dogters al oorlede is, en haar seun woon in KwaZulu-Natal op ‘n suikerrietplaas.
“Ek het al nege kleinkinders, 16 agterkleinkinders en twee agter- agterkleinkinders,” spog die trotse ouma.
Na die kinders uit die huis is het die eensaamheid haar en haar man begin vang en die ouderdom het begin inhaal.
Hulle het die plaas verkoop en ingetrek by Soetdoringwoonstelle in die dorp en dit was ook in dié tyd, in 1986, wat Tannie Alida as stigterslid van die Dienssentrum vir
Bejaardes, haar hand oopgemaak het en gehelp het met pannekoekbak en straatkollekte vir die dienssentrum.
Sy was ‘n bobaas bakster.
“Na my man se afsterwe het ek aanvanklik by my dogter gaan woon, en na haar dood het ek by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis ingetrek.”
Sy voeg by dat sy dit geniet by die ouetehuis, en sy bedank die personeel vir die diens wat hulle lewer, “maar my hoogtepunt sal maar altyd die plaaslewe wees”.
Haar stokperdjies was altyd brei en hekel, maar “die hande wil nie meer so lekker saamwerk nie”, so deesdae sit sy en lees haar gunsteling romans en voeg by dat sy daarvan hou om besig te bly.
“Ek hardloop maar altyd rond en beweeg maar met my kierie as my bene dit nie wil toelaat nie. Dis net my gehoor wat maar bietjie aan die min kant is maar dit bly lekker om radio te luister.”
Tannie Alida sê sy het nie ‘n spesiale resep om altyd so gelukkig te wees nie, maar dat die belangrikste lewensles wat sy geleer het, is om ‘n opregte Christelike lewe te kon lei.
“My geheim van ‘n lang lewe is harde werk, en geloof.”
Sy moedig inwoners aan om nooit op te hou bid nie.
“Almal van ons ervaar moeilike tye in die lewe, maar ons moet hande vat, vorentoe kyk en die pad loop wat God vir ons gekies het, al is dit soms swaar. Wees versigtig met dit wat uit jou mond kom. Die Hoër Hand lei elkeen van ons, ons het nie ons lewens in ons eie hande nie. Kyk na Bo want dis waar die toekoms is.”
Haar verjaarsdagvieringe was vir haar baie spesiaal, sluit sy af.
“Dit was ‘n wonderlike verjaarsdag. Almal wat vir my spesiaal is het saam met my kom kuier.”
En vir die kinders, kleinkinders, agterkleinkinders en agter-agterkleinkinders was dit ‘n besonderse voorreg om te kon sê dat daar al baie lewenslesse by haar geleer is.