Local News

Verwoesting vir boere na swartryp

Swartryp is ‘n verskynsel wat nie gereeld voorkom nie, maar groot skade aan plante en gewasse kan aanrig.

POLOKWANE – Die koue vlaag wat sedert die naweek die winter in Limpopo ingelui het, het reeds verwoesting gesaai toe boere in die provinsie en op kleiner plase om die stad sedert Sondagoggend swartryp in hul landerye opgemerk het.

Swartryp is ‘n verskynsel wat nie gereeld voorkom nie, maar groot skade aan plante en gewasse kan aanrig.

Swartryp kom voor wanneer temperature onder vriespunt daal en daar nie genoeg vog in die lug is om gewone sigbare ryp wat op die plante gaan lê, te vorm nie.

Die temperature daal dan so laag dat die plantweefsel vries.

Wanneer gewone ryp egter voorkom, daal die temperatuur baie stadiger sodra dit begin ryp omdat daar energie vrygestel word wanneer water of waterdamp vries en die temperatuur stabiliseer en die skade nie so groot is nie.

‘n Kleinboer buite die stad het verduidelik dat hy die skade aan sy gewasse beperk deur ‘n ou boereraat te volg.

“Terwyl die groot boere nog slaap, staan ek 04:00 in die oggend op en brand kraalmis in motorbande wat ‘n rookkombers oor die plante veroorsaak en die koue laat opstyg en dit werk,” verseker hy.

Boere in Limpopo het aansienlike skade gely weens swartryp en implemente is ook deur die koue beskadig.

Die voorsitter van TLU SA se Noordstreek, Henk van de Graaf, sê dat terugvoer oor aansienlike skade van lede vanuit die Vivo-omgewing, die gebied agter die Soutpansberge, Levubu, Marble Hall, Arabie en selfs Bela-Bela ontvang is.

Plaaslike boere om die stad het ook aansienlike skade gely en ‘n boer langs die Sandrivier het meer as 80 ha se jong sitrusbome verloor.

In die omgewing van die wawielbrug is groot skade aan spinasieplante aangerig en selfs boere wat in kweekhuise plant, is nie gespaar nie.

Van die gewasse wat erg geraak word hierdeur is aartappels, tamaties en verskeie groentes, hoewel boere wie se aartappels gereed was om te oes, nie geraak is nie.

Die koue het ook skade aan implemente tot gevolg gehad.

“Veral aartappelboere is tans erg kwesbaar nadat hulle ook erge skade in vorige seisoene gehad het en nog probeer het om daarvan te herstel. Ons doen daarom ‘n beroep op finansiële instellings om begrip vir dié boere aan die dag te lê waar hulle nou weer groot skade gely het,” sê Van de Graaf.

Van de Graaf het ook ‘n beroep gedoen op alle produsente in die provinsie om hulle skade te rapporteer by TLU SA se verskillende DLU-kantore, of by streekbestuurder Danie Prins, sodat ‘n volledige opname van die skade gemaak kan word.

“Ons wil graag weet waar die skade gely is, met watter gewasse, die aantal hektare betrokke en indien moontlik ‘n beraming van die finansiële verliese as gevolg daarvan, sodat ons dit aan die provinsiale en nasionale regerings kan voorlê,” sê Van de Graaf.

Van de Graaf het ook ‘n uitnodiging aan die provinsiale LUR vir landbou, Grace Kekana, asook die nasionale minister van landbou, John Steenhuisen, gerig om saam met TLU SA Noord die gebiede te besoek om hulself te vergewis van die skade, met die oog daarop om moontlike bystand te verleen.

Inligting oor die skade kan deurgegee word aan TLU SA Noord se streekbestuurder, Danie Prins, per WhatsApp by 072 904 7070, of per e-pos by danie@4sf.co.za.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button