Local News

Johan en sy konyne

Toe Johan se kinders hul werk verloor het, het hy besluit om konyne te teel vir 'n inkomste en het nou sowat 600.

MOKOPANE – Die gevreesde Covid-pandemie het in 2020 vir Johan Viljoen en sy gesin voor ‘n groot uitdaging te staan gebring.

Die kinders het hul werk verloor en daar moes dringend gekyk word na opsies om hul inkomste aan te vul.

Johan het die internet nader gesleep en deeglik navorsing gedoen voordat hy besluit het die konynmark is ‘n opsie.

“Voordat ons die eerste konyn gekoop het, het ek deeglike navorsing gedoen. Daar is ‘n verskeidenheid hasies en konyne en elkeen het sy doel, maar vir ons het dit gegaan oor ‘n unieke produk, ‘n produk wat ‘n inkomste kan verseker.”

Hy het 28 konyne aangekoop met die verstandhouding om sy kinders te help om ‘n inkomste te genereer.

“Die dag toe ons die eerste wyfies by die mannetjies sit toe kry my seun die nuus dat hy werk gekry het en 28 dae later het my skoondogter die nuus ontvang dat sy ook weer werk het,” sê Johan.

Dit het hom laat wonder, vertel hy, dat hy al nader aan aftree beweeg en dalk die konynbedryf aanwen om vir homself ‘n inkomste te genereer.

Johan vertel dat hul sedertdien gegroei het en het tans sowat 600 konyne.

“Konyne is ‘n baie interessante bedryf, niks gaan verlore van ‘n konyn nie. Ons fokusmark is die vleis maar die velle word gebruik vir handsakke en sulke tipe items, die ontlasting en urine word vir kompos gebruik, die sterte vir sleutelhouers en die voete en ore word gebruik as kou-items vir die honde.”

Hy voeg by dat die koppe skoon gekook word en dan gebruik die mediese studente die skedels om mee te leer.

Hy verduidelik dat daar gewoonlik 24 wyfies op ‘n slag is wat kleintjies kry.

“As jy kommersieel met konyne boer kan hul so agt keer ‘n jaar teel maar ons rusperiodes is ‘n bietjie langer omdat ons mark nog groei, ons werk maar nog op klein skaal. Ons boer met vleiskonyne soos die American Sable-konyn, die Nieu-Seelandkonyn, en die Suid-Afrikaanse Pendulakonyn, Sy ore is groter en hy kan hitte baie beter hanteer, en dan het ons chinchillas, oftewel konyne wat die chinchillakleur het. Van die konynevleis maak ons patties, sosaties, wors, pasteitjies, en dan beplan ons om nuggets te maak, en ook samoesas,”

Johan vertel dat as die konyn geslag is, die vleis se kleur pienk soos enige ander dier is en sodra dit gaargemaak is het dit ‘n ligter kleur met ‘n stywe struktuur.

Die proteïengehalte in konynvleis is ook baie hoër as in ander vleissnitte, en dis gesonder weens die laevetgehalte.

Konynvleis bevat minerale wat ander vleis nie bevat nie.

“Ons het nog nie by uitvoere gekom nie, ons fokus tans plaaslik. In Mokopane het ons ‘n groot plaaslike mark wat ons ondersteun en dan het ons ook kliënte in Johannesburg en Pretoria.”

Hy voeg by dat hy en sy vrou Elmin opgewonde is om die mark uit te brei en bedank ook die gemeenskap wat hul so volhartig ondersteun.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button