Alles oor kruie by tuinbouklub

Tydens die maandelikse Pietersburg Tuinbouklubvergadering verlede Dinsdag, het die lede meer geleer van plante wat genees.

Reeds van die Bybelse tye word plante ingespan om siek mense te genees. Kruie soos mirre en wierook wat deel van die geskenke was wat Jesus met Sy geboorte in Bethlehem ontvang het.

Vandag word plante al meer ingespan om siektes te voorkom en te genees.

Tydens die maandelikse Pietersburg Tuinbouklubvergadering verlede Dinsdag, het die lede meer geleer van plante wat genees.

Die gasspreker was Antoinette Maritz wat nie net vertel het van die verskillende genesingswaarde van plante nie, maar ook gedemonstreer het hoe om olie van plante te onttrek.

“Ek onthou hoe ek as jong dogtertjie reeds bewus geword het van die medisinale waarde van plante toe ons ver van die naaste dokter af gebly het. Hier het ek al geleer van die kankerbos wat vandag weer netso gewild is vir die genesing van siektes.”

Antoinette herinner die lede dat kruie uit hulle tuin op ‘n eenvoudige manier gebruik kan word.

“Ons kan gedroogte kruie in kos gebruik of dit distilleer en olies maak. Hierdie olies is egter baie erg gekonsentreer en moet met ‘n draerolie gemeng word.”

Olies het ook ‘n aromaterapeutiese funksie en Antoinette verduidelik hoe die olies met frekwensies werk.

“Die frekwensies word vrygestel en werk op hul beste as ‘n mens dit bietjie warm vryf voor jy dit aansit. Dan dring dit die vel beter deur. ‘n Mens moet egter nooit die suiwer olies gebruik nie, aangesien dit te sterk is. Meng twee druppel van die suiwer olie met ‘n draer olie vir die beste resultaat.”

Sy sê verder dat baie olies nie suiwer is nie, maar sinteties. Olies moet in ‘n donker bottel bewaar word om hulle waarde te behou.

“Mirre en wierook word van boomgom gemaak, maar die boom moet ten minste 40 jaar oud wees voor die olie geoes kan word. Dié twee geure het baie hoë frekwensies en kan gemeng word met olies met lae frekwensies aangesien dit dan die lae frekwensies verhoog.”

Terwyl Antoinette haar kennis met die vroue deel, het die suurlemoenskille wat sy in die distilleerder gegooi het, begin omsit in hidrosol met ‘n dun lagie olie bo-op.

“Hydrosol is die water-oplosbare deel van die eindproduk. Dit bevat mikroskopiese druppels van die essensiële olies. Die olies kan op verskillende maniere gebruik word, soos in ‘n room, water en diffusie-eenheid met ‘n ultrasoniese plaatjie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version