Local News

Hoe die Pietersburg provinsiale hospitaal werk

Die hoofuitvoerendebeampte, Philip Kruger sê dat Pietersburg Provinsiale Hospitaal en Mankweng Hospitaal as 'n kompleks saamwerk, waar die spesialisdienste tussen die twee hospitale verdeel is.

POLOKWANE – ‘n Gebrek aan kennis oor hoe die Pietersburg Provinsiale Hospitaal funksioneer binne die groter Limpopo gesondheidsstelsel is dikwels die rede vir groot ongelukkigheid en talle klagtes.

Volgens die hoofuitvoerendebeampte, Philip Kruger, is dié hospitaal ‘n tersiêre hospitaal.

“Dit beteken dat pasiënte eers na primêre-, distrik- en sekondêre instellings moet gaan, vanwaar hul verwys word na die Pietersburg Hospitaal. Ons is dus ‘n verwysingshospitaal, wat gesondheidsdienste op ‘n tersiêre vlak lewer. Geen pasiënt of noodgeval, word weggewys nie en sal die nodige behandeling ontvang.”

Die gesondheidstelsel funksioneer egter as a stelsel, waar pasiënte (buiten noodgevalle), se eerste besoek aan ‘n primêre gesondheidsorgkliniek moet wees. In die geval van Polokwane, sal dit Rethabile- of Buitekliniek wees.

Pasiënte sal hier die nodige primêre gesondheidsbehandeling kry, wat ook medikasie insluit. Indien dit nodig is dat ‘n pasiënt na ‘n hospitaal verwys moet word, kan dit of Seshego Distrikhospital, of die Pietersburg/Mankweng tersiêre kompleks.

Die provinsie het in ander distrikte streekshospitale naamlik Mokopane, Letaba, Tshilidzini, St Ritas en Philadelphia. Hierdie hospitale bied sekere spesialisdienste wat nie by distrikshospitale beskikbaar is nie (sekondêre dienste).

Wanneer daar egter ‘n ongeluk of ander noodgeval is, is die hospitaal en sy personeel gereed om te help.

“Aangesien ons na pasiënte wat tussen lewe en dood is, omsien, moet die teaterlys dikwels op kort kennisgewing verander word. Dit beteken dat die pasiënt wat tans opgeneem is, maar nie in ‘n lewe-of-doodsituasie is nie, se operasie uitgestel word sodat daar eers aan die pasiënt wat gered moet word, aandag gegee kan word.”

Kruger sê verder dat Pietersburg Provinsiale Hospitaal en Mankweng Hospitaal as ‘n kompleks saamwerk, waar die spesialisdienste tussen die twee hospitale verdeel is.

Pietersburg en Mankweng is opleidingshospitale, wat akkreditasie van die Suid-Afrikaanse Raad vir Gesondheidsberoepe het, om spesialiste in sekere dissiplines op te lei. Dit is die enigste twee opleidingshospitale in die provinsie, wat ook deel vorm van die Limpopo Universiteit se mediese skool.

Kruger sê daar is planne om die hospitaal op te knap en een van die bestes in die land te maak.

Wanneer klagtes inkom, word dit dadelik opgeneem en daaraan aandag gegee. Die klagte word ook deurgaans geëskaleer om seker te maak die probleem word opgelos.

Die Departement van Gesondheid se woordvoerder, Neil Shikwambana, beklemtoon wat Kruger sê in verband met die aanmelding van ‘n klagte en sê klagtes gaan na die gehalteversekeringsoffisier wat met die klagtes werk.

“Die klagte moet in geskrewe formaat wees sodat dit na wense ondersoek kan word. Die departement moet terugvoer gee en sou die klaer nie tevrede wees nie, kan dit verder geneem word.”

Kruger het ook genoem dat die department met ‘n reuse projek besig is om in die provinsie uit te brei.

Oor die afgelope jaar het die provinsie 500 ambulanse aangekoop en al 500 tans is in gebruik – die grootste projek van dié aard ooit in Suid Afrika.

“Ons kom nie voor met ambulanse nie. Daar was slegs 100 ambulanse en hulle kry vinnig baie kilometers op aangesien hulle ver moet ry. Die plan is nou om spesifieke personeel aan ‘n ambulans te bind sodat daardie personeellid verantwoordelikheid kan neem om die ambulans op te pas.”

Die EMS-helikopter is ook die eerste in die provinsie wat 24 uur ‘n dag vlieg.

“Die EMS inbelstelsel word ook heeltemal verander en gemoderniseer. Wanneer ‘n persoon inbel sal daar gesien kan word van waar af hy of sy bel. Terselfdertyd word die ambulanse gemonitor en sodoende kan die naaste ambulans na die pasiënt gestuur word.” Inwoners kan 112 skakel wat hulle by die rampbestuurkantoor sal laat uitkom. Dié sal dan die oproep na die naaste ambulans aan die pasiënt gestuur word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button