Local News

Polokwane-onnies saal op vir dié perdrykompetisie

Die organiseerders van die naweek het dit goedgedink om 'n kompetisie tussen die skole in Louis Trichardt en Tzaneen die Polokwaneskole uitdaag.

POLOKWANE – Dié komende naweek word die SAWMGA Limpopo-perdrykompetisie by Winnfield Stables gehou, maar hierdie keer kan toeskouers gereed wees vir nuwe vermaak.

Die organiseerders van die naweek het dit goedgedink om ‘n kompetisie tussen die stad se skole aan te bied, maar daar is uiteindelik besluit dat skole in Louis Trichardt en Tzaneen die Polokwaneskole uitdaag.

Die uitdaging behels om onderwysers, wat verkieslik nié kan perdry nie, in die saal te sit en hulle aan hulle eie kompetisie te laat deelneem.

Skole van Polokwane wat gaan deel neem is Curro Heuwelkruin, Oosskool, Hoërskool Pietersburg, Laerskool Ivypark en Pietersburg Laerskool.

Die skole kan ook van die geleentheid gebruik maak om hulle skool te bemark en toeskouers wat die onderwysers ondersteun, kan ook sommer sien waaroor die SAWMGA-kompetisies gaan.

Rawstorne van Jaarsveld, een van die organiseerders, sê op hierdie manier hoop hulle dat skole wat ruiters het, die sportsoort beter sal verstaan en sodoende beter ondersteun.

“Daar sal pryse wees, maar nie vir die beste ruiter en perd nie, eerder vir die beste gees of so. Ons sien vreeslik uit na die dag.”

Christelle Coetzee (Curro Heuwelkruin)
1. Kan jy perdry?
Ja, ek kan perdry.
2. Waarna sien jy die meeste uit?
Western Mounted Games. Ek het net nog nooit die geleentheid gehad om te kan deelneem nie.
3. Waarna sien jy die minste uit?
Al die mense wat vir jou kyk. Ek hou nie van die kollig nie.
4. Het jy ‘n boodskap vir jou teenstaanders?
“Ek hoop julle het genoeg Heartland gekyk. En so bietjie Yellowstone. Let’s cowboy up.”
Natasha Fourie (Akademie Reformia)
1. Kan jy perdry?
Glad nie.
2. Waarna sien jy die meeste uit?
Om saam met my gesin en ons Reffies pret te hé.
3. Waarna sien jy dit minste uit?
Om buite my gemaksone te beweeg.
4. Het jy ‘n boodskap vir jou teenstaanders?
‘These boots are made for walking, And that’s just what they’ll do, One of these days these boots are gonna walk a mile with you.’
Deirdre Meyer (Hoërskool Pietersburg)
1. Kan jy perdry?
Ek was al een of twee keer op ‘n perd.
2. Waarna sien jy die meeste uit?
Elke liewe deel van die dag.
3.Waarna sien jy die minste uit?
Om van die perd af te klim.
4. Het jy ‘n boodskap vir jou teenstaanders?
“Pieties sal julle almal weereens wys hoe word dinge gedoen.”
Minette Zietsman (Laerskool Ivypark)
1.Kan jy perdry?
Ek ry al perd vandat ek drie jaar oud is. Ek het grootgeword in ‘n familie wat perdry geniet het.
2) Waarna sien jy die meeste uit?
Na die atmosfeer en samesyn van die perdefamilie.
3) Waarna sien jy die minste uit?
Die vroeg opstaan en inspeksie.
4) Het jy ‘n boodskap vir jou teenstaanders?
“Eet jou vleis, smeer die botter, jou perd is mooi maar myne is hotter.”
Zandré van de Vyver (Pietersburg Laerskool)
1. Kan jy perdry?
Ek kan vir ontspanning perdry maar hy moenie draf nie (ek oefen nog).
2. Waarna sien jy die meeste uit?
?Om die verskillende perde te sien.
3. Waarna sien jy die minste uit?
?Om van die perd af te klim.
4. Het jy ‘n boodskap vir jou teenstaanders?
“Saal jou perd reg op en geniet dit.”
Roné von Houwald (Oosskool)
1. Kan jy perdry?
Ek kon op skool perdry, so ons sal sien hoe dit gaan.
2. Waarna sien jy die meeste uit?
Om weer op ‘n perd te klim.
3. Waarna sien jy die minste uit?
Die val wat ek weet gaan kom, want die Western Games lyk nie baie maklik nie.
4. Het jy ‘n boodskap vir jou teenstaanders?
“ Noem ons sommer Usain Bolt # kwadraat.”
For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button