Local News

Vroue brei die winter weg

Die items, asook 'n paar komberse is verlede Donderdag aan Drienie van Wyk, die eienaar van Vision of Hope, oorhandig.

POLOKWANE – Reeds in Februarie het ‘n groep vroue dit goedgedink om handskoene, musse en serpe vir die winter te begin brei met die idee om dit dan aan Vision of Hope te skenk vir die mense wat in dié skuiling tuisgaan.

Die items, asook ‘n paar komberse is verlede Donderdag aan Drienie van Wyk, die eienaar van Vision of Hope, oorhandig.

“Ons is 15 vroue wat weekliks bymekaarkom en dan oor ‘n koppie tee lekker kuier terwyl ons brei en hekel,” sê Linda Duvenage, een van die vroue in die groep.

Die vroue kom by Macadamia@The Aloes bymekaar.

Iem Coetzee het die idee aan haar vriendinne voorgelê en almal het opgewonde begin werk. Daar is ook vir die twee tieners in die shelter spesiaal pakkies opgemaak met toiletware en vir die twee kleuters is daar elkeen ‘n nuwe kombers gegee.

Van Wyk het aan die vroue vertel wat Vision of Hope behels.

“Ons het 55 mense wat tans in die shelter woon, waarvan daar ses kinders is. Baie van die mense is bejaardes. Ons is baie geseënd met gereelde skenkings en donasies en kan vir 600 mense ‘n week kos gee. Hierdie mense bly nie in die shelter nie. Ons gee ook vir 35 gesinne op ‘n weeklikse basis kospakkies.”

Sy sê verder dat daar planne in die pyplyn is om nog kamers aan te bou en ook ‘n koelkamer om die kos wat hulle ontvang, te stoor. Daar is reeds sonpanele op.

“Ons het ook ‘n vrou van Mokopane wat een maal ‘n week vir ons naaldwerkklasse kom gee en het ook elke Donderdag Bybelstudie. Die inwoners wat ons met die verspreiding van die kos kan help, help ons. Ons nood is baie groot vir komberse vir die mense aan wie ons kos gee. Ons deel ook elke twee weke kos aan die mense wat op straat slaap, uit.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button