Local News

Ma-en-dogteroggend propvol idees

Retha Prinsloo het onlangs Reffies gewys hoe om tafels te dek met dit wat jy in die huis het.

POLOKWANE – ‘n Mens is geneig om te dink dat jy baie geld moet spandeer om mooi te lyk of gaste te onthaal. Dié wanopvatting is Saterdagoggend tydens ‘n ma-en-dogteroggend by Akademie Reformia in die wiele gery.

Die Reffies het dié geleentheid, met die tema Mooi met Min, aangebied waartydens Retha Prinsloo gewys het hoe om tafels te dek met dit wat jy in die huis het.

Nataniël is bekend vir sy keurig gedekte tafels wat ‘n tuisgemaakte ete lekkerder laat smaak en gaste gretig laat aansit. Retha het besluit om die basiese beginsels van ‘n eenvoudige, maar mooi tafel te demonstreer.

“Gebruik dit wat in jou huis is. Jou tafel se dekor gaan afhang van wat die geleentheid is, soos ontbyt, middagete en aandete. Sorg dat daar genoeg plek vir elke gas is om te eet, so 60cm is gewoonlik genoeg spasie. Maak seker jou tafel is reg gedek. ‘n Tafel is ‘n kuierplek waar mense met mekaar kan gesels.”

Prinsloo sê die bord en eetgerei moet in ‘n reguit lyn wees.

Plaas die bord eerste, so 2cm van die rand van die tafel af. Die eetgerei word uitgepak met die mes en vurk vir die hoofgereg direk langs die bord en dan elke gereg se eetgerei daarna.

“Die mes se snykant word na die bord gedek en wanneer jy begin eet, begin jy met die buitenste eetgerei en gebruik dit na binne.”

Prinsloo het die verskille in vismesse, slaai mes en vurk en nagereg lepels en vurke verduidelik.

“Die nagereg lepel wat bo die bord gedek word, moet met sy hef na regs gedek wees terwyl die vurk in die ander rigting moet wys. Die glase moet aan die regterkant, bo die mes in ‘n 45° hoek geplaas word.”

Sy raai die gebruik van papierservette af en stel voor die gasvrou gebruik lapservette. Dié word ook net gebruik om die hoeke van die mond af te vee.

“Die versiering op die tafel moet óf lag, óf hoog genoeg wees dat die gaste bo-oor of onderdeur kan sien om lekker te kuier. Daar is baie maniere om ‘n tafel prettig te maak deur van ‘n tafeldoek, loper en verskillende servette te gebruik.”

Studente van Limpopo Hair & Beauty College Polokwane het gewys hoe ‘n mens ook jou hare met min moeite spesiaal kan laat lyk. Hulle het raad gegee vir bollas en vlegsels.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button