Local News

Hidroponiese stelsel van nader bekyk

Die vergadering het by Mark Pretorius se slaaiplaas plaasgevind en hy het die lede deur sy plantasie op 'n toer geneem.

POLOKWANE – Die Meivergadering van die Pietersburg Tuinbouklub het lede verstom gelaat oor die werke van ‘n hidroponiese aanleg.

Die vergadering het by Mark Pretorius se slaaiplaas plaasgevind en hy het die lede deur sy plantasie op ‘n toer geneem.

“Ons is al ongeveer ‘n jaar besig met die projek en was so twee weke gelede in volle produksie. Die doel van hierdie stelsel is om slaaikoppe vinnig, goedkoop en mooi te laat groei. Daar is nie grond betrokke by die proses nie en die plante kry hulle voeding van die water wat hulle kry.”

Hy het die vroue eers na die pompkamer geneem waar hy die proses aan hulle verduidelik het. “Alles werk met die rekenaar. Daar is ‘n resep wat die rekenaar gebruik om te kyk hoeveel van watter voeding stowwe die water benodig. Ons gebruik boorgatwater en wanneer daar ‘n tekort is aan ‘n voedingstof, word dit bygevoeg. Ons blaas lug in die voeding-tenke in om die vloeistof te meng.”

Mark verduidelik dat die pompkamer die hart van die besigheid is en dus moet alles hier glad verloop. Hy word met ‘n SMS-boodskap ingelig van enige veranderinge of probleme in die stelsel.

“Met ‘n hidroponiese stelsel word water bespaar aangesien die water wat nie deur die plant opgeneem word nie, weer hersirkuleer in die stelsel. Wanneer dit reën, spoel dit die stelsel skoon. Reën bring egter ook ongewenste swamsiektes.”

Die plantarea is 1,2ha groot en verdeel in blokke met 140 000 plantsakkies. Die plante neem, vandat dit geplant is, ses weke voordat dit geoes word. Die plantasie is onder nette wat toegerus is om hael weer te staan.

Wanneer die net ‘n sekere gewig bereik, gaan dit oop en val die haelkorrels uit. “

Daar is verskeie soorte slaai wat Mark aanplant en hy voorsien aan ‘n kettingwinkel in Johannesburg. Voordat die slaaikoppe in kratte gepak word vir verkoeling en vervoer, word die buitenste blare afgehaal. Wanneer die plant geoes word, word hy, wortel en al, uit die riviersand gehaal waarna ‘n volgende saailing sy plek inneem.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button