Local News

Verkiesing: ‘interessante tyd wat wag’

DA Parlementslid Beyers Smit verduidelik dat dit ‘n tyd is wat die partye tot suiwer denke gedwing word en dat die kiesers die risiko’s moet verstaan.

MOKOPANE – Met die verkiesingsuitslae wat die ANC as regerende party nasionaal slegs by 40% van stemme kon uitkry, is die weg gebaan vir koalisies of ‘n regering van nasionale eenheid.

DA Parlementslid en kiesafdelingshoof vir Mogalakwena, Beyers Smit verduidelik dat dit een van die DA se doelwitte was om die ANC onder 50% van die stemme te kry en dus ‘n einde te bring aan ‘n eenpartyregeringstaat.

“Dit is die eerste keer ooit dat daar ‘n koalisie of ‘n minderheidsregering gaan wees.”

Hy voeg by dat dit beslis ‘n goeie ding is vir demokrasie en verantwoordbaarheid omdat meer as een party dan die mag het om deel te wees van besluitneming.

Smit sê dat hy egter bekommerd is oor die sterk opkoms van die MK party wat hy beskryf as ‘n aggressiewe radikale party, te oordeel aan verkiesingsmanifes.

Hy voeg by dat die DA se prestasie in Limpopo, veral in Mogalakwena, vir hom ‘n riem onder die hart is.

“Die DA het baie groei getoon, nie net in die dorp nie, maar ook van nabygeleë nedersettings. Daar was wel kiesers wat nie hul kruisies getrek het nie. Van die kiesers het aan my bevestig dat hul gewerk het en nie tyd gehad het om te gaan stem nie, ander het nie reg geregistreer nie, alhoewel daar deurentyd op die groepe gekommunikeer is oor die prosedures.”

Smit sê dat sedert die 1994-verkiesing was hierdie jaar s’n ongetwyfeld die belangrikste verkiesing in die land se geskiedenis, “Dis nou ‘n moeilike maar interessante tyd wat voorlê vir kiesers”.

Hy meen daar wag groot veranderinge vorentoe. “Die vraag is watter verandering en kiesers moet geduldig wag totdat die koalisies afgehandel is. Die land het nou by ‘n kruispad gekom.”

Hy verduidelik dat daar drie opsies is: “Een is die DA nader die ANC en kyk of daar tussen die gematigde partye ‘n stabiele regering verseker kan word vir die volgende vyf jaar sonder om toe te gee op beginsels, “of ons gaan sit met ‘n radikale koalisieregering wat die land uitmekaar gaan ruk as die MK en EFF hul hande op die staat kry.”

Hy sê ook dat dit ‘n tyd is wat die partye tot suiwer denke gedwing word en dat die kiesers die risiko’s moet verstaan.

“Daar is meer opsies as net ‘n koalisieregering. Die tweede opsie is dat die ANC die uitvoerende tak van die regering is wat beteken dat hulle die president en dies meer kies. Dan neem die DA of ander partye beheer van die wetgewende tak wat die parlementêre oorsig en besluitneming hanteer in terme van die uitvoerende tak. So die ANC kan nie net besluite neem nie, daar moet konsultasies wees met die DA of dan ander partye.”

Smit sê daar is selfs ‘n derde opsie waar die ANC met niemand ‘n ooreenkoms aangaan nie, elke party gee sy presidensiële kandidaat se naam, almal stem en die ANC kies in elk geval wie hul wil hê as president. Dan het die ANC ‘n minderheidsregering en dan soos wat die tyd loop moet daar konstant onderhandelings plaasvind.

“Die ANC het aan die einde van die dag die finale besluit.”

Marcelle Maritz, lid van die provinsiale wetgewer van die Vryheidsfront Plus.

Marcelle Maritz, lid van die provinsiale wetgewer van die Vryheidsfront Plus het bygevoeg dat die afgelope verkiesing met baie uitdagings gekom het, “alhoewel ons hard in die landelike en stedelike gebiede gewerk het, het die kiesers nie opgedaag om te stem nie.”

Sy bevestig dat baie faktore daar toe gelei het, maar dat sy die grootste daarvan toeskryf die mense se onkunde in die politiek en vir wie en wat hulle stem.

“Ek het wel my stoel in die wetgewer behou, waarvoor ek baie dankbaar is teenoor die kiesers wat wel besluit het om hulle kruisie agter die VF Plus te trek. Ek dink die politieke speelveld se dinamika het baie verander en sal ons na nuwe strategieë moet kyk en terselfdertyd steeds by ons party se beeld en beleid moet hou.”

Maritz bevestig dat die munisipale verkiesings van 2026 nou voorlê.

“Ek het nog die moed, geloof en hoop vir die provinsie se mense en sal ek aanhou veg vir elkeen se regte in die provinsie.”

*Political content disclaimer:
The views expressed in articles and adverts are expressed by the relevant interviewees and the parties they represent, and are not held by this publication.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button