Local News

Dié dans is régtig oefening

Paaldans is 'n erkende sport by die Global Association of International Sports Federation (GAISF).

POLOKWANE – Paaldans het dikwels ‘n stigma in die samelewing, met talle mense wat dit gewoonlik verbind met die idee van ‘n ontkleedansklub.

Dié soort dans het egter sy oorsprong reeds in 1930 toe mense wat in die sirkusse gewerk het, die tentpale gebruik het om te oefen. Dus is dit ‘n gebalanseerde soort oefening en Lize Laas is vasbeslote om vroue die tegnieke van hierdie dansvorm te leer.

Sy is reeds sedert 2006 af betrokke met paaldans en het in 2008 die nodige kursusse voltooi.

“Ek wou iets vir die Here doen, ek het ‘n passie gehad om vir God te werk. Ek het gebid en gevra wat en hoe ek vir Hom kan werk. Hy het die hoë egskeidingsyfer onder my aandag gebring en gesê vroue moet weer vroue word. Ek het begin om eenvoudige klasse in skootdans, ontkleedans en paaldans aangebied en die vroue het vinnig vir my gesê hulle hou van die paaldans. Kort daarna het ek slegs hierop begin fokus.”

Paaldans is ‘n erkende sport by die Global Association of International Sports Federation (GAISF) en baie mense gebruik dit om hulle liggame sterker te maak, vertel sy.

“Dit is anders as om in ‘n gimnasium met gewigte te werk. Met paaldans oefen jy met jou eie gewig en dra jy jou eie gewig. Dit is baie goed vir ‘n mens se selfbeeld, vroue voel weer mooi, sexy en volkome vrou. Paaldans oefen die kern van jou lyf, jou arms, bene en selfs jou rug.”

Volgens Lize is daar ongelooflik baie bewegings en toertjies en word daar daagliks nuwes geskep. Die musiek wat jy kan gebruik is gewoonlik die soort musiek wat hoë energie en lekker ritme het. Dit moet jou metabolisme en harttempo verhoog.

“As gevolg van persoonlike uitdagings en ‘n moeilike paar jaar, het ek vir 12 jaar nie klasse aangebied nie. Die Here het onlangs vir my gesê ek moet weer die studio oopmaak. Ek het nie gedink ek sou dit ooit weer doen nie. maar my gawe is dié van onderrig en ek wil vroue help om hulleself op te bou vir die Koninkryk van God.”

Lize bied middag- en aandklasse aan, met slegs vier vroue per klas. Sy kan gekontak word by 072 611 4074.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button