Local News

Só word skoolhoof deel van TN tradisie

Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het hulde gebring aan oudhoof Ferdie Preller deur 'n vierkant op die skoolterrein na hom te vernoem.

POLOKWANE – Voormalige hoof Ferdie Preller is ‘n naam wat elke leerder van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé goéd ken.

Preller was van 1980 tot 2003 skoolhoof van Tom Naudé en hierdie jaar, 43 jaar nadat hy die Bosveld Intervarsity tradisie ingespan het, het die skool hulde aan hom gebring deur ‘n plein op die skoolgrond na hom te vernoem.

Die Ferdie Preller Plein sal voortaan deur die Tommies gebruik kan word om met hulle verjaarsdagfoto’s by die twee gerestoureerde kombi’s te neem.

Huidige hoof, Vanessa Kachelhoffer, onthou Preller as ‘n hoof wat diep spore in leerders en personeel se harte getrap het.

“Ek onthou hom as ‘n mens wat opreg belanggestel het in elke kind en ouer in die skoolgemeenskap. Dit was nie vir hom genoeg om net die leerder se naam te ken nie. Hy het ook van ons as onderwysers verwag om die ouers te ken, en te weet waarmee hulle boer. Ons prysuitdelings kon ure duur aangesien hy uit persoonlike bywoning presies geweet het hoe goed die leerder presteer het. Hy was ‘n fenominale mentor, leier en hoof.”

Hanri Love, wat steeds as onderwyser by Tom Naudé is, onthou hom vir sy ongeëwenaarde toewyding. “Hy word onthou as ‘n ikoon van toewyding en medemenslikheid. Gedurende sy jare by Tom Naudé was hy nie net ‘n leier in die opvoeding gewees nie, maar ‘n ware vriend en mentor vir almal in die skoolgemeenskap. Sy persoonlike aandag aan elke onderwyser, leerder en ouer was legendaries. Hy het nie net hulle name geken nie, maar ook hulle omstandighede en aspirasies. Sy deurlopende belangstelling in elke individu het ‘n atmosfeer van omgee en ondersteuning geskep, wat die skool ‘n liefdevolle huis met begrip gemaak het.”

Ina Haasbroek is ook steeds ‘n onderwyser by Tom Naudé en onthou vir Preller as ‘n hoof wat met elke prysuitdeling elke kind se prestasies geken, en oor elke leerder ‘n staaltjie kon vertel het.

“Ek onthou hom as ‘n vurige sportondersteuning wat langs die hoogspringmat, saam met die atlete gespring het. Iemand wat langs die rugbyveld saam met elke Tommie gehardloop het. Ek onthou hoe hy laataand met sy hoed, vanaf sy kantoor huis toe gestap het. Ek onthou hoe hy na my klas gekom het om met sy kleingeld kolwyntjies en oliebolle kom koop het om die kaskarinsameling te ondersteun. Hy was ‘n mens wat met ander bemoeienis gemaak het.”

Atletiek afrigter, Danie Roux, onthou hoe Preller, “wanneer hy wou skinder, vir my gesê het, ‘onthou, hierdie bly by my en jou en die duiwel en die diep blou see’. Ek sal sy pittige sêgoed nooit vergeet nie. Soos wanneer hy ‘n inspeksie verwag, maar skrikkerig was, sou hy in die personeel kamer sê ‘die weerlig gaan slaan, ons weet net nie waar nie’. Wanneer jy hom by ‘n atletiekbyeenkoms gesoek het, moes jy net kyk waar die wit safaripak en geel hoedjie ronddraf en spring, dit was hy.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button