Local News

Paasfees kan ook vir diabeteslyers lekker wees

Geregistreerde dieetkundige, Anke van Waveren se raad is om vooruit die inhoud van maaltye en versnaperinge te beplan om goeie bloedglukosebeheer toe te pas.

POLOKWANE – Met die aanloop van Paasfees is sjokolade hasies, paaseiers en selfs paasbolletjies maar ‘n paar lekkernye wat deesdae op die winkelrakke beskikbaar is.

Ouers van kinders met diabetes het dikwels die uitdaging oor hoe om toe te laat dat hulle kinders dié eetgoed kan geniet terwyl hulle bloedsuikervlakke onder beheer bly.

Vanisha Jessen (10) is ongeveer twee jaar gelede met Diabetes 1 gediagnoseer en sedertdien maak haar ma, Amber Jessen, seker sy kan, net soos ander kinders van haar ouderdom, die lekkerte in die lewe geniet.

“Daar is paaseiers met lae kalorieë inhoud wat maklik by die huis gemaak kan word. Die bestanddele sluit in ongesoute botter wat gemaak is van die melk van koeie wat vrylik wei of klapper botter, klapperolie, fyn eritritol (lae-kalorie versoeter) en gesoute grondboontjiebotter,” sê Jessen.

Geregistreerde dieetkundige, Anke van Waveren sê die rol van ‘n dieetkundige is om ouers te help om ‘n maaltydplan op te stel wat daarop gefokus is om gesondheid en groei asook die beste bloedsuiker vlakke te optimaliseer.

“Kinders met tipe 1-diabetes het dieselfde voedingsbehoeftes as ander kinders. Die gereelde inname van styselagtige koolhidrate, onversadigde vette en maer proteïene is belangrik.”

Van Waveren sê verder koolhidrate bv. stysel- en suikerryke kosse, is die belangrikste bron van glukose by kinders met tipe 1-diabetes en behoort ongeveer 50% van kinders se totale energie-inname uit te maak.

“Goeie kennis oor koolhidraattellings en die toediening daarvan tesame met die korrekte insulienregime sal hierdie kinders in staat stel om alle verskillende soorte koolhidrate te eet, selfs ‘n paashaas. Om hierdie rede is koolhidraattelling die hoeksteen van tipe 1-diabetesbestuur.”

Jessen maak ook suikervrye jellie mousse-bakkies vir Vanisha en haar sussie.

“Dit is vinnig en maklik om hierdie happie te maak en daar word net ‘n paar bestanddele benodig. Dit kan met enige geur suiker-vrye jellie gemaak word. ‘n Mens kan ook ‘n keto-vriendelike sjokolade koek maak. Hiervoor word amandel-meel, kakao poeier en versoeter gebruik. Vir die vulsel word aarbeie, gelatien van vrylopende diere en versoeter gemaak.”

Van Waveren se raad is om vooruit die inhoud van maaltye en versnaperinge te beplan om goeie bloedglukosebeheer toe te pas.

“Ouers en versorgers benodig uitstekende kennis oor hoe om insuliendosisse volgens verskillende voedselkeuses en porsies aan te pas om goeie bloedglukosebeheer te handhaaf. Dit is belangrik om ‘n dieetkundige te besoek vir voedingsadvies wat aangepas is by die kultuur en familietradisies van jou individuele kind, eerder as om ‘n een-grootte-pas-almal dieet te probeer volg.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button