Downsindroomdag: Zané (14) se storie van hoop

Zané leer baie uit al die ervarings en as gevolg hiervan het sy ‘n sterk selfbeeld, al weet sy sy is anders. Sy is ‘n gelukkige kind.

POLOKWANE – “Ek weet goed hoe ‘n foon werk.” Sou hierdie woord uit enige ander 14-jarige se mond kom, sou dit vreemd gewees het, maar vir Zané Enslin is dit iets spesiaal.

Zané is met Down Sindroom gebore en sedertdien hou dit haar ouers, Esmari en Johan op hulle tone. Sy verskil heeltemal van haar ouboet, Logan (8).

Die Enslin gesin: Zané, Esmari, Johan en Logan. Foto: verskaf.

Donderdag, 21 Maart is dit Downsindroomdag en Polokwane Observer het by Esmari gehoor van hulle lewe saam met ‘n kind met Downsindroom.

Esmari onthou hoe Zané haar mylpale op haar eie tyd behaal het. “Sy het op 10 maande eers regop gesit en op twee eers geloop. Haar baba-brabbel het op drie eers in taal verander.”

Behalwe vir die mylpale wat sy op haar eie tyd behaal het, het sy ook ander gesondheidsprobleme. Sy is ook met Turnersindroom gediagnoseer.

 

“Dit veroorsaak dat die linkerkantse slagaar om haar tragea groei wat later deur ‘n operasie reggestel sal moet word. Sy is ook op sewe jaar met tipe 1 diabetes gediagnoseer en dit bied vir ons ‘n verdere uitdaging. Sy kan nie sê wanneer haar suiker te laag of te hoog is nie, en dit het al by geleentheid veroorsaak dat ons met haar hospitaal toe moes jaag, as sy hipoglisemie (lae bloedglukose) ontwikkel. Dit kan lewensgevaarlik wees.”

As gevolg hiervan kan Esmari nie buitenshuis werk nie. Zané moet gedurig gemonitor word en haar suiker word ongeveer 10 keer per dag getoets. Dit het weer sosiale en finansiële implikasies aangesien die toets tot R1 200 per maand kan kos. Haar dieet moet ook met ‘n valkoog dopgehou word, sy is baie lief vir soetgoed wat vir haar verbode is.

“Sy sal dikwels sê Logan mag dit dan eet. Sy is baie sosiaal, maar mag nooit by maats oorslaap nie en verkieslik nooit alleen na ‘n partytjie toe gaan nie.”

Esmari sê mense is nie baie goed opgevoed oor Downsindroom nie, en maak soms onsensitiewe opmerkings en vra vreemde vrae.

“Hulle is geneig daartoe om veral oor aborsie vrae te vra. Die nuuskierige kyke pla Zané nie so erg nie, maar ons moes leer om daarmee saam te leef. Mense gebruik ook nog die verouderde en onsensitiewe terme soos mongool en vertraag. Ons het egter besluit om ons kind so normaal as moontlik groot te maak. Ons stel haar bloot aan al die wonderlike ervarings waarop Logan floreer.”

Zané leer baie uit al die ervarings en as gevolg hiervan het sy ‘n sterk selfbeeld, al weet sy sy is anders. Sy is ‘n gelukkige kind.

Na ‘n slegte ervaring by ‘n staatskool het Esmari en Johan die kans gekry om Zané by ‘n privaat leersentrum vir Downsindroom kinders in te skryf. Hier het sy vinnige leer lees en skryf en ‘n groot liefde vir lees ontwikkel.

“Sy werk tans by ‘n plek waar jongmense met gestremdhede leer om self ‘n inkomste te genereer. Sy en ander gestremdes leer om kunsvlytprodukte te vervaardig en sy leer om ‘n entrepreneur te word.”

Zané is die hoof uitvoerende beampte van haar eie besigheid, Zané’s Arts and Crafts, en het in Februarie die eerste keer kans gekry om haar items by ‘n mark te verkoop.

Een van die items wat Zané maak en verkoop. Foto: verskaf.

“Dit was ‘n lang dag, maar ek het dit vreeslik geniet. Met my eerste geld het ek koeldrank gekoop, maar nou spaar ek vir ‘n suikermonitor wat baie duur is, maar almal se lewens makliker sal maak.”

Esmari se raad aan ander mammas wat uitvind hulle kind het Downsindroom:
• Wees lief vir jou kind.
• Doen moeite om uit te vind wat sy potensiaal is en moenie net op ander mense se menings vertrou nie.
• Werk elke dag daaraan om sy potensiaal te ontwikkel.
• Al verskil tussen jou kind en ‘n ander kind is dalk net een ekstra chromosoom.
• Hulle het dieselfde potensiaal om lief te hê en liefgehê te word. Hulle is net ‘n kind, nie ‘n oorlas nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version