Local News

‘n Koskous help voed ‘n gesin

Met Food Sock kan jy 'n gesin van tussen vier en ses mense kos gee teen R45.

POLOKWANE – Hoeveel mense in jou gesin kan jy voed met R45 per dag?

Dit is skaars genoeg om een mens kos te gee, wat nog te sê vier. Maar met Food Sock kan jy nou vir ‘n gesin van tussen vier en ses mense kosgee teen dié bedrag.

Food Sock is verlede jaar aan Polokwane bekendgestel nadat Louise van den Dool en haar man, Hugo, op die internet daarvan gelees het.

“Die kousdeel is van herwinbare plastiek gemaak en die bestanddele binne het ‘n raklewe van 12 maande,” verduidelik Louise.

Al wat nodig is om die kous in ‘n heerlike maaltyd te verander, is ‘n pot, water en ‘n hittebron.

Bestanddele sluit in sojaprodukte, pasta, rys, geurmiddels, gedroogte groente, bone en peule. Die koskous is nie net geskik vir vegetariërs nie, maar ook vir halaalgebruikers.

“Sou jy jou bord kos wil aanvul, kan jy ook stukkies vleis of hoender byvoeg.”

Louise het ‘n boks vol van die koskouse aan die Rotary Anns Club of Pietersburg 100 geskenk wat dit dan weer aan gesinne wat behoeftig is, uitdeel.

Volgens Yvonne Joubert van die Anns, het die aanvraag vir kos onlangs baie gestyg.

“Ons kry wel steeds skenkings, kos en finansieel. Hierdie koskouse is goud werd en sal baie help in die proses om mense kos te gee.”

Indien jy koskouse wil koop of aan die Rotary Anns wil skenk, kontak Louise by 061 531 7737.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button