Seksueel oordraagbare siektes: ken die simptome

Volgens dr. Wilhelm von Ludwig, word STD's veroorsaak deur verskeie organismes, soos virusse en bakterieë en die bekendste hiervan is MIV.

POLOKWANE – Seksueel oordraagbare siektes (SOS) staan algemeen bekend as ‘STD’s’ en infeksies as ‘STI’s’, en alhoewel mense dikwels van beide as ‘STD’s’ praat, is daar ‘n verskil tussen die twee.

Polokwane Observer het met dr. Wilhelm von Ludwig hieroor gesels.

“STD’s word veroorsaak deur verskeie organismes, soos virusse en bakterieë. Die bekendste hiervan is MIV, oftewel Vigs.

“Die meeste infeksies het ‘n tydperk waarin hulle reeds die liggaam geïnfekteer het, maar nog nie simptomaties is nie. Ons noem hierdie die inkubasietydperk. Dit wissel afhangende van die betrokke siekte.”

Die inkubasie tydperk van sommige seksueel oordraagbare siektes is as volg:

• Chlamidia: 7-21 dae.

• Gonorree: 1-14 dae.

• Sifilis: Tot 90 dae.

“En dan is die uiteindelike siekte ook nie altyd so dramaties nie,” sê von Ludwig, “MIV maak sy opwagting bekend met gewone griepsimptome en ‘n ligte veluitslag.” Infeksies vind plaas wanneer virusse, bakterieë of parasiete jou liggaam binnedring en begin vermeerder. Hoe die kiem in jou lyf inkom, hang van die tipe kiem af. Sommige kom binne deur vel-tot-vel-kontak terwyl ander deur middels van liggaamsvloeistowwe in jou bloedstroom inkom.

“Sommige STIs soos menslike papillomavirus (MPV) kan selfs vir jare geen simptome veroorsaak nie. MPV is verantwoordelik vir amper alle gevalle van servikale kanker en vratte op die genitale area van beide mans en vroue.

“Gelukkig is daar ‘n baie effektiewe entstof beskikbaar om te beskerm teen hierdie lastige pes.”

Tekens van STIs of STDs:

Simptome kan dae, weke en selfs jare neem om te verskyn. Dus is dit noodsaaklik om, as jy seksueel aktief is, gereeld te toets. Verskillende STDs het verskillende simptome en kan verskillende dele van jou lyf affekteer.

Kyk uit vir:

• Knoppe, sere of uitslag in of om die geslagsdele, anus, boude of dye.

• Veranderinge in die hoeveelheid, kleur of reuk van vaginale of peniele afskeidings.

• Ongewone vaginale bloeding of kolletjies tussen periodes of na seks.

• Pynlike of brandende urinering.

• Pyn tydens seks.

• Pynlike of geswelde testikels of ‘n gevoel van jeuk rondom die geslagsdele.

• Geswolle en pynlike limfknope, veral in die lies en nek.

• Genitale of anale uitslag.

• Bloeding.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version