Roomys, met sommer baie pret en smaakplesier

Exotic Ice Creams, Party & Venue bied ook 'n familievriendelike area waar kinders hulle partytjies kan vier, en selfs 'n kombuistee en ooievaarstee gehou kan word.

POLOKWANE – Wanneer ‘n mens die woord ‘roomys’ hoor, is ‘n soet versnapering een van die eerste dinge waaraan jy dink.

Ruanda en Louis Snyman, die eienaars van Exotic Ice Creams, Party & Venue, verras kliënte met ‘n roomysgeurverskeidenheid wat jou stoutste verwagtinge sal oortref.

Daar is die heerlike soet spookasem-, borrelgom- en sjokoladegeure wat aangevul kan word met geure soos knoffel, wasabi en jalapeno.

“Ons het ‘n besigheid in Haenertsburg gehad, maar het na die Covid-19-epidemie besluit om na Polokwane te verhuis. Ons het verskeie opsies vir ‘n eie besigheid oorweeg, en gedink aan roomysgeure wat anders is. Kliënte het ook begin vra vir minder algemene geure.”

Hulle bied altesaam 13 geure aan en aangesien Ruanda geurmiddels wat chemies en dus baie gekonsentreerd is gebruik, smaak die roomys presies soos die naam sê. Sy maak die roomys self.

“Mense glo nie altyd dat die wasabi en jalapeno roomys brand nie. Ons ander eksotiese smake sluit Indiese kerrie, biltong, avokadopeer en laventel in.”

‘n Gewilde item wat by die roomys aansluit, is die Messy Milkshake, wat bestaan uit die kliënt se keuse van eksotiese roomys waarby Ruanda dan soveel as moontlik lekkernye, soos oliebolle, malvalekkers en sjokolade byvoeg.

Ruanda Snyman met die Messy Milkshakes.

Exotic Ice Creams, Party & Venue bied ook ‘n familievriendelike area waar kinders hulle partytjies kan vier, en selfs ‘n kombuistee en ooievaarstee gehou kan word.

Behalwe vir die swembad is daar ook plek waar kinders kan fietsry en springkastele is ook te huur.

“Ek bied ook partytjiepakkies met die kind se naam en ouderdom op. Dit word volgens ‘n gekose tema gemaak en daar kan gekies word tussen boksies of sakkies. Die standaard pakkie het ‘n melkie, tjips en sjokolade in. Ons kan dan items byvoeg soos die kliënt dit vra. Die roomys en melkskommels is hier beskikbaar en daar is ‘n braai-area vir ouers.”

Daar is reeds 48 temas vir verjaarsdae en dit wissel van die gewilde temas tot minderbekende temas soos Cocomelon en weermag.

Dié span werk duidelik, en hiervoor is Ruanda dankbaar.

“Ek sou dit nie sonder Louis kon doen nie. Hy is my regter- en linkerhand en sonder hom sou die besigheid nie suksesvol gewees het nie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version