Local News

Dienspligveterane eersdaags in stad byeen

Die VBF besoek Polokwane op Woensdag, 28 Februarie om 10:00 by die N.G. Kerk Kremetart, waartydens veterane saam kan kuier.

POLOKWANE – Nasionale Diensplig is nie iets wat hedendaagse jongmense ken nie. Manlike skoolverlaters is destyds deur die regering wetlik verplig om vir een of twee jaar verpligte diensplig te lewer.

Philip Moolman, die direkteur en ambassadeur van die organisasie sonder winsbejag, Veterane Bystandsfonds (VBF) sê hulle besoek die stad eersdaags.

“Die VBF is nie ‘n militêre organisasie, klub of vereniging nie. Daar is nie lede nie en daar word nie geen lidmaatskapfooie gevra nie. Verder word daar geen lidmaatskapvoordele aangebied nie. Die VBF is nie aan enige militêre organisasie of die regering geaffilieer nie en is totaal afhanklik van publieke skenkers wat, eenmalig of maandeliks, bydra om noodverligting aan uitsluitlik Nasionale Diensplig Veterane te kan bied.”

Die VBF besoek Polokwane op Woensdag, 28 Februarie om 10:00 by die N.G. Kerk Kremetart (voorheen Pietersburg-Oos), waartydens veterane saam kan kuier met ‘n ete en musiek deur Philip Moolman kan geniet.

Foto: Verskaaf.

Funksies soos hierdie word regoor Suid-Afrika gehou en vermaak veterane met musiek, inspirerende sprekers, pryse, geskenke, sowel as ‘n broodnodige inkopie-geskenkbewys om hul pensioenfondse aan te vul. Die uitreik verwelkom alle Nasionale Diensplig Veterane, maar veral dié wat finansieel sukkel en van Sassa-pensioen afhanklik is.

“Die waarde van kameraadskap wat by hierdie funksie ervaar word, is onmeetbaar. Baie veterane leef in isolasie, hul eggenote het hulle verlaat, of hul kinders het geïmmigreer. Sommige veterane ervaar nie slegs isolasie van familie en vriende nie, maar voel ook afgesny van hul mede-veterane. Tydens die funksies kry hulle die kans om weer kontak te maak met mense wat ‘n soortgelyke geskiedenis as hulself deel. Hulle is welkom om gedurende die funksie hulle weermag stories en staaltjies te deel,” sê Moolman.

Foto: Verskaaf.

Daar word ook ‘n video uit die Nasionale Diensplig-era, met bekende liedjies, gewys.

Besprekings is noodsaaklik en veterane word gevra om hulle naam en die woord ‘Pietersburg’ na 31429 te SMS of na 073 868 0781 te WhatsApp. Die VBF kantoor sal in kontak kom met die veterane en die bespreking bevestig.

Veterane wat bewys kan lewer dat hulle Sassa-pensioenarisse is, ontvang ook `n gratis inkopie-geskenkbewys ter waarde van R500. Verteenwoordigers van VBF tree met veterane in kontak by die funksie en vestig kommunikasie kanale met die doel om toekomstige hulp te bied by www.veteranebystandfonds.co.za.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button