Local News

Vriende en familie vier Loot Vogel se lewe

Soos die dokter voorspel het, het Loot se niere eerste ingegee en is hy 'n paar dae later, op 12 Desember, oorlede.

POLOKWANE – Ongeveer 200 mense het Saterdagoggend by Mimosa Klub saamgekom om die lewe van Loot Vogel (67) te vier.

Loot is in 2022 met rektumkanker (rektumkasinoom) gediagnoseer, wat stelselmatig na sy geslagsdele en later ook sy rugstring en stuitjie versprei het. Die gewas het uiteindelik sy nierpypies ook versper.

Na sy aanvanklike diagnose het hy die toestand begin navors en op behandeling in die VS afgekom, wat hom egter R2.2m sou beloop. Sy seuns, Wikus en Ewoudt, en voormalige vrou, Nici, het ingespring en funksies aangebied met die oog daarop om die bedrag in te samel, maar hy het ongelukkig weggeval voordat die volle bedrag ingesamel is.

“Ons het begin besef ons gaan nie die volle bedrag betyds kan insamel nie en dat Loot tog geopereer sou moes word. In November moes hy ‘n positron-emissie-tomografie-skandering (PET-Skandering) in Pretoria kry waarna die dokter hom dadelik opgeneem het om geopereer te word. Die kanker het egter reeds te ver versprei en die dokter het dus net die nierpypies skoongemaak wat pynverligting tot gevolg gehad het,” verduidelik Nici.

Loot se aanvanklike lewensverwagting, volgens die medici, was ses tot nege maande, maar dit het binne dae minder geword.

Soos die dokter voorspel het, het Loot se niere eerste ingegee en is hy ‘n paar dae later, op 12 Desember, oorlede.

“Ons is dankbaar vir die tyd wat ons saam met hom kon hê die laaste paar weke. Dit het dinge vir ons makliker gemaak en ek glo vir my pa ook,” sê Wikus.

Loot was ‘n jarelange inwoner van Polokwane waar hy bykans 50 jaar by Transnet gewerk het.

Sy seuns onthou hom as iemand wat omgegee het vir sy medemens en agter die skerms betrokke was by gemeenskapsprojekte.

“Sy huis was altyd oop vir ander mense en ons het eers onlangs besef hoe betrokke hy by welsynswerk was. Hy het baie daarvan gehou om tyd in die natuur deur te bring. Hy was lief vir visvang en die bos,” sê Nici.

Die seuns het ‘n goeie verhouding met Loot gehad en Ewoudt sê hy was ‘n beskermende pa.

“Selfs tot sy dood het hy ons probeer beskerm. Hy het na die operasie selfs nie eers met ons gedeel wat die dokter se prognose was nie. Die dokter het dit wel met ons bespreek. My pa was soos ‘n soldaat wat tot op sy sterfbed sy familie beskerm het.”

Wikus voeg by dat Loot hulle altyd verseker het van sy liefde vir hulle.

‘n Snoekbraai of skaap op die spit sal nooit weer vir Ewoudt en Wikus dieselfde wees nie, sê hulle. Hulle gunsteling herinneringe is die kere wat hulle saam herinneringe gemaak het.

“Hy het ons geleer om dinge aan te pak wat ons nie geweet het hoe nie. Soos visvang en pellet-skiet. Hy was altyd bereid om te help,” sê Ewoudt.

Wikus onthou Loot se liefde vir die lewe, avontuur en natuur.

Volgens Nici het Loot al sy sake agtermekaar gekry voor hy in Netcare Pretoria-Oos opgeneem is.

“Hy het aan alles gedink om dinge na sy dood vir ons makliker te maak. Dr. Michael Heyns en die personeel by die hospitaal was baie hulpvaardig en die diens was wonderlik. Ons kan net met lof van die hospitaal praat.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button