Pierre Volschenk lewe vir kuns

Volschenk is 'n oud-Pietie en het sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Pietersburg voltooi.

POLOKWANE – Wie sou dink dat die geluid van ‘n ou tikmasjien vanuit ‘n stoepkamer op Olyfberg, jare later steeds ‘n warm gevoel vir professor Pierre Volschenk (97) sou gee waar hy nou in Gordonsbaai woon.

Volschenk is bekend vir sy beeldhouwerk van die dr. Danie Craven en Bliksem-beeld op Stellenbosch, asook borsbeelde van Uys Krige, Anna-Neethling-Pohl en Anna M. Louw in die Nasionale Letterkunde Museum.

Die keramiekpaneel by Tshipise is ook een van sy voltooide werke.

Volschenk is ‘n oud-Pietie en het sy hoërskoolloopbaan aan Hoërskool Pietersburg voltooi.

Vroeër, by Laerskool Paardedrift het die leerders nie skoene gedra nie en Volschenk onthou hoe sy voetsole gebrand het toe hy in gr. 8 moes begin skoene dra.

“Ek onthou my laerskooldae as uniek en eiesoortig, iets wat ek vir niks sal verruil nie. Die veld was ons speelplek en daar was geen einde aan die daaglikse avontuur nie.”

Dit is gedurende hierdie tyd wat hy blootgestel is aan pottebakkery toe hy gereeld, vol belangstelling gekyk het hoe die plaaslike inwoners van die omgewing hulle potte maak en kleiosse met verskillende materiale weef en hout uitkerf.

Na gr. 12 het Volschenk by Normaal Kollege Pretoria (NKP) aangesluit waar hy onderwys studeer het.

“As student moes ek vrede maak met ontgroening wat bekendgestaan het as die ergste denkbaar. Tog het daardie ontgroening vir interpersoonlike verhoudings met ander gesorg. Ek is my lewe lank nog dankbaar daarvoor, veral vir die invloed daarvan op my hele lewensbenadering en reaksie.”

Volschenk se werkstukke het een van sy dosente, Willem van Wyk, so beïndruk dat hy hom later herken as “die mannetjie wat so lekker spotprente kon teken”.

Van Wyk bied toe vir Volschenk die pos as dosent vir die afdeling kuns en kunsvlyt by ‘n vakopleidingskollege in Middelburg aan.

Dit was die begin van baie geleenthede waar hy sy kennis in kuns en kunsvlyt kon deel en terselfdertyd verskerp.

Van die poste wat hy beklee het sluit in lektor in pottebakkery aan die Witwatersrandse Tegniese Kollege Kunsskool, inspekteur vir Spesiale Vakke (kuns) by die Departement van Kleurlingsake en professor en hoof van die Departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van Durban-Westville.

Daar was ook verskeie poste by skole en nadat hy met Marie Erasmus getroud is en hulle tweeling gebore is, verhuis hulle terug na Polokwane waar hy vir ‘n paar jaar sy kennis met leerders deel. Daar is ook later ‘n seun uit die huwelik gebore.

Sy belangstelling stop egter nie by die kunste nie en ‘n vriend en kollega, Hans Venter, het hom geleer van fotografie, motorenjins opknap en hoe om sy eie swysmasjien te bou.

Die Volschenkgesin het die wêreld deurkruis as gevolg van Volschenk se belangstelling in kuns. Hulle besoek lande soos België en die VS.

Op tuisbodem oortuig hy die Suid-Afrikaanse Komitee van Onderwyshoofde van die waarde van kuns, waarna die vak ‘n matrikulasievrystellingsvak word.

“Kyk ek terug oor al die jare, is daar so baie dinge waaroor ek dankbaar teenoor God is.

“Alles wat hy in my voorouers gevestig het en in my geplaas en gevorm het, het my lewe betekenisvol en wonderlik gemaak. Dus het ek geweet ek moet myself en alles wat ek tot in staat was, aan ander beskikbaar moet stel. My leuse in die lewe is om tyd in waarde te omskep.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version