Local News

Sente omdraai dié Kersfees? Hanteer Boet of Sus se teleurstelling só

‘n Plaaslike arbeidsterapeut, Lize Kubannek verduidelik hoe ouers realistiese verwagtinge vir geskenke by hulle kinders kan help skep.

POLOKWANE – Dit is die week voor Kersfees en die boom met sy blink liggies hou die geskenke onder sy takke veilig. Boeta is elke oggend opgewonde oor die geskenk wat Kersvader vir hom gebring het. Sy ogies blink en hy is sommer ekstra gehoorsaam. Hy het immers in sy briefie aan Kersvader geskryf, hy wil ook graag een van daardie baie duur speletjiekonsole hê.

Oukersaand breek aan en met ‘n bonsende hart raak jy saam met jou gesin rustig rondom die boom. Wanneer dit tyd is vir geskenke bid jy saggies, want Kersvader kon nie dié speletjies en al hulle toerusting bekostig nie, en het toe maar besluit op iets goedkoper.

Die oomblik wat sy trane van teleurstelling oor sy wange spoel, breek jou hart, maar wat kan jy doen…

Polokwane Review het met arbeidsterapeut Lize Kubannek gesels om te hoor hoe ‘n ouer hierdie teleurstelling kan verhoed in ‘n tyd wat die ekonomie druk en talle gesinne na meer bekostigbare Kersgeskenke kyk.

“Geen ouer wil in die situasie wees waar hulle kind teleurstelling beleef nie. Maak seker jou kind is voorbereid. Gebruik die tyd voor Kersdag en praat met hulle oor die verwagtinge.”

Kubannek raai ouers ook aan om eerder op tradisies, en nie geskenke te fokus.

“Die winkels lê baie klem op geskenke, want hulle wil geld maak. Dan kan die kinders nog hulle behoeftes vir Kersvader neerpen ook. Fokus eerder op dit wat julle as gesin saam doen om die tyd spesiaal te maak.”

Om jou kind by die geskenkegeeproses te beperk, kan die fokus van ‘ontvang’ na ‘gee’ verander, is haar raad.

“Betrek jou kind.  Laat hy of sy self ‘n geskenk of kaartjie maak, of kies saam geskenke vir die familie en laat die kinders help met die toedraai van die geskenke. Jy kan hulle selfs opgewonde maak deur te vra of hulle dink oupa gaan van die nuwe kouse hou. So is hulle saam opgewonde om te sien hoe Oupa die geskenk ontvang.”

Realistiese verwagtinge moet ook by kinders geskep word.

Kubannek sê ouers kan aan kinders verduidelik dat dit ‘n besige jaar was en Kersvader se begroting nie groot, duur geskenke toelaat nie. Sy elwe het heeltemal te koud gekry en dus kon hulle nie groot goed items maak nie.

“In plaas daarvan dat jy vir jou kind ‘n advertensieboek met speelgoed in gee en sê hulle moet alles omkring wat hulle wil hê, sê eerder hulle kan een of twee items kies. Vra die familie om geld saam te sit en koop eerder vir ‘n kind een geskenk wat hy of sy werklik wil hê, as 10 geskenke waarvoor hulle nie gevra het nie.”

Ouers kan hierdie situasie gebruik om vir kinders te leer hoe om teleurstelling te hanteer.

“Leer hulle voor die tyd om, as hulle nie gekry het waarvoor hulle gevra het nie, dankie te sê en hulleself dan te verskoon. Laat hy of sy hulle gesigte gaan afspoel en jy kan ook vir hom ‘n mantra leer soos ‘ek is OK, dit is nie so erg nie’, wat hulle kan herhaal tot dinge rustiger voel.”

Laastens raai Kubannek ouers aan om hulle kinders ook met probleemoplossing te help.

“Moenie hulle gevoelens afmaak as niks nie en moet nie vir hulle preek nie. Wanneer hulle kalm is kan jy vir Boet of Sus eenkant toe neem en vra wat hulle eintlik wou hê. Dan kan julle saam planne maak om geld te spaar of vir familie vra om by te dra vir daardie geskenk. Dit sal hulle leer om te beplan, te kan wag en die versoeking tot onmiddellike bevrediging verminder.”

 

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button