Van liefde vir kosmaak, na Met Liefde Gemaak uit die kombuis

Alta het aanvanklik kos vir Akademie Reformia se naskoolafdeling gemaak en in 2019 besluit om uit te brei.

POLOKWANE – Om heilsame en gesonde kos te maak is deesdae ‘n uitdaging.

Tussendeur werk, kinders se programme en beurtkrag is daar dikwels nie tyd om ‘n behoorlike maaltyd aanmekaar te slaan nie en dit is dikwels makliker om by ‘n kitskosplek stilt te hou.

Met haar liefde en passie vir kosmaak en die kombuis, kom Alta Grobler egter tot talle se redding.

Met Liefde Gemaak uit Lajana Kombuis is Alta se oplossing vir besige inwoners.

“Ek was nog altyd lief daarvoor om in die kombuis te wees en kos te maak. Ek was eers in die korporatiewe wêreld voor ek voltyds in die kombuis begin werk het.”

Alta het aanvanklik kos vir Akademie Reformia se naskoolafdeling gemaak en in 2019 besluit om uit te brei.

“Ek wil altyd vir mense sê, ‘moenie net daar staan nie, eet iets’. Wanneer iemand siek is wil ek ook graag seker maak hulle eet. Ek het stadigaan begin adverteer en baie op verwysings staatgemaak.”

Nadat Alta se kombuis gedurende die grendeltydperk tot stilstand geruk is, het sy besluit om die sprong te maak en uit die korporatiewe wêreld te bedank.

“Dit was moeilik vir ‘n rukkie, ek moes die besigheid met bitter min begin. Ek het ‘n WhatsApp lysie gehad waarop ek die week se spyskaart gesit het, en in 2022 het ek vir die eerste keer op sosiale media geadverteer.”

Sy sê sy het van die weeklikse spyskaart beweeg na ‘n rantsoenboks met bakkies gevriesde etes.

Jy kan 350ml bakkies of 500ml bakkies kies, afhangende van jou behoefte. Stuur vir Alta ‘n WhatsApp na 082 405 3239 met die woord ‘Rantsoenboks’ en sy stuur vir jou meer inligting.

“Ons maak peuselhappieborde ook, maar met ‘n verskil. Ek hou daarvan om te eksperimenteer en sit persoonlike moeite in die bord. Ek hou ook daarvan om die tafel waarop die bord staan, mooi te maak. My naam en die kliënt se naam is op die spel, dus wil ek hê dit moet mooi lyk.”

Alta het ook ‘n projek waarin lesers ‘n bord kos teen R55 kan aankoop, wat dan aan behoeftiges geskenk word.

“Baie mense wil uitreik en help, maar weet nie altyd hoe nie. Die mense wat geld skenk, is dikwels diegene wat self al swaar gekry het. Mariza Pelser van Heart Drive/Heart Cycle is die fasiliteerder en sy bepaal die behoefte vir kos,” sluit sy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version