Afslaer Flip stabiel na skietvoorval

Dokters het intussen bevestig dat die koeël net onder Flip van der Merwe se linkerlong sit en tans nie skade aanrig nie.

MOKOPANE – Flip van der Merwe (41), ‘n afslaer van Vleissentraal Bosveld het verlede Woensdag ‘n veiling by die Onderstepoort veilingskrale gelei toe sy lewe in ‘n oogwink verander het.

Teen ongeveer 17:15 het Van der Merwe en twee kollegas in ‘n dubbelkajuitbakkie huiswaarts gekeer.

Volgens sy broer, Henk van der Merwe, het hulle besef dat hulle agtervolg word.

Nie lank daarna nie het die insittendes van dié voertuig op hulle begin skiet.

“Daar was geen geld of waardevolle items in die bakkie nie. Die een koeël is deur die bestuurdersitplek en het Flip in die rug deur die regterblad getref.”

Volgens Henk het Flip aan sy kollegas erken dat hy geen gevoel in sy bene het nie en die bakkie het aan die linkerkant van die pad tot stillstand gekom.

Nog aanvallers het intussen bygekom en die drie insittendes beveel om uit te klim en op die grond te lê.

“Flip kon nie beweeg nie en die aanvallers het hom in die bakkie gelos. Hulle het op die vlug geslaan met ‘n leë trommel en ‘n paar persoonlike items.”

‘n Nooddienswerker het volgens Henk op die toneel afgekom en Flip gestabiliseer voor hy per ambulans na die naaste hospitaal geneem is.

Hy is reeds verlede Woensdag geopereer.

“Flip het gesukkel met suurstof en teen Sondag was sy suurstofvlakke op 60% en kon die CT-skandering gedoen word om te sien watter roete die koeël gevolg het.”

Dokters het intussen bevestig dat die koeël net onder Flip se linkerlong sit en tans nie skade aanrig nie. Daar is ook geen skade aangerig aan sy ruggraat nie.

Hy is steeds onder verdowing en aan ‘n ventilator gekoppel sodat sy suurstofvlakke gemonitor kan word. Dié vlakke het intussen tot 85% gestyg.

“Sy organe funksioneer mooi en sy bloeddruk is ook konstant. Ons is dankbaar vir die vordering,” het Henk bygevoeg.

Daar is intussen ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version