Local News

Skaap en Skoffelfees bring eindelose vermaak

Feesgangers kan ook Saterdag inskryf vir die Skaap en Skoffel Fees Tjomma Challenge en hierdie uitdaging vind by die fees self plaas met regstreekse optredes en beoordelaars.

POLOKWANE – Met ‘n skaap op die spit en ‘n geskoffel op die dansbaan kan lesers eersdaags ‘n fees soos min kan geniet op plaaslike bodem, wanneer die Skaap en Skoffelfees op 28 en 29 Oktober by Generaal Piet Joubert plaasvind.

Dit fees beloof hope talent, kompetisies en vermaak vir oud en jonk.

Jaenette Jacobs, ‘n bekende model en TV-persoonlikheid, sal die seremoniemeester wees wat sal sorg dat dinge voor, bo en agter die verhoog seepglad verloop.

Die pret begin reeds Saterdagoggend om 10:00 met ‘n optrede deur Dienkie en Doedels, asook Tjominis.

Organiseerder Jolandie Peters sê Dienkie en Doedels gaan deur die kleuters van Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum en Werk en Wen vergesel word.
Tjominis – nog vermaak vir die jongspan – is geskep deur Sorina en bied opvoedkundige vermaak.

Arno van der Hoff, Francois Jacobs, DJacklaas en Bolv Boereorkes, Elizma Theron, Liezel Pieters en Sorina sorg vir vermaak tot die son sak waarna Ivan Roux, Dodo (en leerders van Oosskool) en Jan Bloukaas die verhoog gaan oorneem.

Om 13:00 op Saterdag word die Limpopo Skole Tjomma Challenge deur Die Flooze aangebied.

“Skole se sportspanne, onderwysers of enige ander belangstellendes neem ‘n video van tussen 30 sekondes en een minuut op. Hulle dans op die maat van Flooze se Floozeboogie. Dié videos word ingegestuur, waarna dit deur Flooze se sosiale media bekendgestel word. Dit gaan nie oor wie die beste is nie, maar daar word ‘n gelukkige trekking gehou met pryse van tot R20 000,” het Peters gesê.

Feesgangers kan ook Saterdag inskryf vir die Skaap en Skoffel Fees Tjomma Challenge. Hierdie uitdaging vind by die fees self plaas met regstreekse optredes en beoordelaars. Ook hier is groot pryse op die spel.

Sondag skop Dienkie en Doedels weer die dag af gevolg deur Jay Morgan, Heidi en Adam.

Kinders tussen ses en 18 jaar kan inskryf vir die Jong Talent-kompetisie wat om 12:00 plaasvind. Inskrywings sluit egter reeds op 30 September. Die top 10 kunstenaars gaan die geleentheid kry om op die Skaap en Skoffelfeesverhoog op te tree.

Daar is ook ‘n kompetisies vir gr. 12-meisies om met hulle matriekafskeidrokke te spog. Die meisies skryf in en dan word die top 10 gekies, waarna beoordelaars by die fees die mooiste rok sal kies. Ook hier is groot pryse te wen.

Na afloop van die kompetisie sal Nicholis Louw, Loufi en Gerhard Steyn optree met DJacklaas en Bolv Boereorkes wat die naweek afsluit. Hoërskool Pietersburg gaan saam met Gerhard Steyn op die verhoog wees.

Op beide dae, om 11:00 sal die Honour Wrestling Association ‘n stoeivertoning aanbied. Ander aktiwiteite sluit in teikenboogskiet deur Archery Shooting, ‘n verskeidenheid stalletjies, ‘n biertuin, en vele meer.

Kaartjies beloop R60 vir kinders tussen drie en 12 jaar, R120 vir hoërskoolleerders en pensionarisse, en R150 vir volwassenes. Kinders jonger as drie gaan gratis in.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button