Local News

Back-a-buddy vir Nicole se operasie

Nicole Krogh (15) is verlede jaar met skoliose gediagnoseer en het aanvanklik 'n rugstut snags gedra.

POLOKWANE – Vir iemand wat ‘n angswekkende fobie vir hospitale het, is Nicole Krogh (15) besonder gewillig om vir ‘n operasie opgeneem te word. Dié operasie is egter broodnodig om haar rugwerwel te herstel.

Nicole is verlede jaar met skoliose gediagnoseer en het aanvanklik ‘n rugstut snags gedra.

Maar toe haar ma, Yolande, haar eendag op die naat van haar rug op die kombuisvloer aantref, het hulle besef die stut is nie genoeg nie.

“Ons het eers gedink my rug is net seer as gevolg van my tas wat oor my skouer gedra word. Maar verlede jaar in Augustus het ek ‘n wawiel gedoen en iemand het opgemerk dat my rug nie reg lyk nie,” vertel Nicole.

Haar ouers het haar plaaslike vir X-straalplate geneem, en sy is na dr. Ettienne Coetzee in Pretoria verwys.

“Coetzee het met die intrapslag gesê hy opereer as die kurwe enige iets meer as 40° gebuig is. Nicole se rug was toe reeds teen 48° gebuig. Hy het egter eers die rugstut voorgestel waarmee sy elke aand vir agt ure moes slaap,” vertel Yolande.

Nicole moes in September weer vir ‘n doktersbesoek gaan, maar in Julie het Yolande opgemerk dat dit lyk of ‘n deel van haar ribbes uit plek is.

Terug by die dokter bevind hy dat die kurwe reeds op 66° is.

“Hy het gesê ons het nog 18 maande om alternatiewe opsies te oorweeg, soos nog ‘n stut, maar met dié dat haar asemhaling reeds problematies is, het ons besluit om die operasie so gou as moontlik te laat doen. Nicole is volgende jaar in gr. 10 en ons wil hê sy moet op haar skoolwerk fokus.”

Die Krogh-gesin kan die operasie op 14 November laat doen, maar hulle mediese fonds betaal slegs 100% van die dokter- en spesialisfooie, terwyl die tariewe meer as 200% beloop – en hulle benodig ‘n bedrag van R120 000.

Intussen het die skool Nicole vrygestel van haar eindjaareksamen en kan sy die ses weke na die operasie gebruik om te herstel. Die skoliose beïnvloed haar skoolwerk aangesien sy nie lank kan sit nie en sukkel om te konsentreer.

Yolande het intussen ‘n BackaBuddyrekening geskep met die hoop om genoeg geld in te samel.

“Dit is egter steeds ‘n saak van geloof, en ons glo die Here sal voorsien. Dit is egter ook ‘n geval van geloof in aksie, en daarom het ons die rekening gestig,” het sy afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button