Klein veranderinge, ‘nuwe’ tuin

Selfs net om ‘n ou pot te verf, of bestaande plante rond te skuif gee jou tuin nuwe lewe, gesels tuinboukenner Whelmi Chalmers onlangs by ‘n vergadering van die plaaslike tuinbouklub.

POLOKWANE – ‘n Nuwe plant hier of ‘n geverfde pot daar in jou tuin kan jou lushof sommer gou-gou splinternuut laat lyk.

Só vertel plaaslike tuinboukenner Whelmi Chalmers onlangs by ‘n vergadering van die Pietersburg Tuinbouklub.

Sy het aan die lede van die klub vertel hoe maklik dit is om jou tuin nuwe lewe te gee.

“Begin met ‘n paar mooi potplante binneshuis en ‘n paar helder kussings op jou stoep. Ek glo wit blomme by jou voordeur en by die braai-area is ‘n wonderlike manier om selfs saans nog kleur te bring in jou tuin. Helder kleure raak weg in die donker.”

Sy raai ook aan dat jy die potte in jou tuin rondskuif, of ou potte verf en hulle sodoende lewe gee.

“As jy net die tuin by jou voordeur verander, sal jou vriendinne dink jou hele tuin is verander. Jy kan ook ‘n heining agter jou potte of waterfonteine plant. Dit sal die potte meer diepte gee. As jy ‘n paadjie met klip in jou tuin het, kan jy hom verf of met stensils versier. Dakverf werk baie goed hiervoor, en om potte mee te verf. Elke tuin moet ‘n hoekie hê waar jy alleentyd saam met jouself kan spandeer. Hang ook voëlvoeders en mandjies in jou tuin.”

Laventel en malvaplante is ‘n moet vir elke tuin, het sy bygevoeg.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version