Local News

Hawelose: Soms gee die lewe vir jou ‘n slegte kaart

Die Polokwane Observer het met Francois van Dyk gaan gesels oor hoe hy op straat beland het.

POLOKWANE – Jy ry telkens by hom verby op pad huis toe, daar waar hy met sy vuil hare en verslonsde klere, bedelbord in die hand en met ‘n dooie gesig staan.

Maar jy sien hom nie raak nie – hy is vir jou maar net nog een van vele bedelaars wat dag in en dag uit, maand vir maand, seisoen vir seisoen op dieselfde plek staan en bedel.

Hierdie mens is egter ook iemand met ‘n naam, ‘n verlede en ‘n storie.

Volgens www.worldhomelessday.org is 10 Oktober World Homeless Day en die doel van die dag is bewusmaking van hawelose persone se behoeftes.

Polokwane Observer het met Francois van Dyk gaan gesels oor hoe hy op straat beland het.

“Ek is in Somerset-Wes gebore en het my skoolloopbaan by Paarl Gimnasium voltooi. Na skool het ek in Lephalale by die myn begin werk.”

Hy het egter jare later sy werk verloor vanweë afleggings in die maatskappy, en het hierna elektriese werk op kontrakbasis vir Eskom begin doen.

“Na sowat 10 jaar is ons kontrakte nie hernu nie en skielik het ek alles verloor. Ek en my vrou is geskei en ek het alles wat ek besit het vir haar gegee. Dit was ongeveer vier jaar gelede.”

Hy bring die nag deur op ‘n ou sak of kartonboks om die koue minder te maak, met hopelik ‘n kombers of baadjie.

Sy “spot” soos dit op straat bekendstaan is by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal, naby waar die sekuriteitsbeamptes ‘n ogie kan hou.

“Niks is veilig nie. ‘n Paar dae terug is my kombers en baadjie gesteel. Ek het net die stel klere wat ek aanhet, en ek kan nie bad of stort nie. Om na ‘n skuiling te gaan kos geld, iets wat ek nie het nie. Ek maak sommige dae net R50 waar ek op die hoek staan en bedel.”

Hy sê dis nie ‘n maklike plek om te wees nie. Een dag is daar kos, en die volgende dag nie. Die son brand sy vel deur of hy is deurweek wanneer dit reën, en skuiling is nie altyd beskikbaar nie.

“Ek sal graag ‘n kans wil hê om weer te begin, maar mense vertrou jou nie. Hulle skeer ons almal onder dieselfde kam. Ja, daar is van ons wat aan dwelms verslaaf is, maar vir ander, soos ek, het die lewe net ‘n slegte kaart uitgedeel.

“Ek het nog nooit dwelms gebruik nie, en het reeds jare opgehou om te drink. Maar met dié dat ek lyk soos wat ek lyk, vertrou mense my nie.”

Francois sê hy wil graag terug gaan Kaap toe, maar om daar te kom is ‘n probleem.

“Om te ryloop is net te gevaarlik en selfs hulle soek altyd betaling. Hoe gaan ek ooit weer op my voete kom as niemand my ‘n kans wil gee nie?”

Vir sy mede-haweloses gee hy raad om aan te hou glo, nooit op te hou bid nie en nie moed te verloor nie.

“Vir die lesers wil ek net vra, moet ons nie almal oor dieselfde kam skeer nie en moet ons nie net oordeel nie.”

Francois staan daagliks by die verkeerslig by Thabo Mbeki- en Grimmstraat en bly hoop op ‘n positiewe uitkoms.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button