Local News

Egpaar verloor alles na grasdak vlamvat

Volgens Isabel is daar verdagte spore op die perseel gevind en 'n saak van brandstigting is reeds by die polisie aanhangig gemaak.

POLOKWANE – Die afgelope paar weke het brande in verskillende dele van die land die nuus oorheers.

Huise, plase, woonstelblokke en vele meer is in puin gelê.

In Polokwane het ‘n plaaslike egpaar, Isabel en James Whelan self skade gely, en al hulle besittings verloor.

Isabel vertel hulle woon op ‘n plaas uit op die Smelterspad.

“Ons het verlede Donderdagaand by my dogter gekuier toe ons plaaswerker ons bel met die nuus dat ons huis onder vlamme was. Ons het dadelik daarheen gejaag en op pad heeltyd gebid.”

Teen die tyd dat hulle by die huis aangekom het, het die hele grasdak reeds afgebrand.

“Die gras het in die huis ingeval en alles wat ons besit is vernietig. Volgens die plaaswerker wat ook op die perseel woon, het die honde erg geblaf. Hy het by die venster uitgekyk en gesien die grasdak brand. Hy het hom na ons bure gehaas om ons te kontak aangesien die sein op die plaas sleg is.”

Wat die brand veroorsaak het sal deur ‘n ondersoek bepaal word. Volgens Isabel is daar verdagte spore op die perseel gevind en ‘n saak van brandstigting is reeds by die polisie aanhangig gemaak.

“Ons het alles verloor. Daar is soveel persoonlike items, soos foto’s van my oorlede ouers, broer en suster. Alles is net so weg. Ons het niks oor nie. Ons is dankbaar dat ons ongedeerd is, maar die hartseer is onbeskryflik.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button