Boeliegedrag: Waar en hoekom kom dit voor?

Boeliegedrag kom algemeen voor – in ons skole, ons huise, by ons werksplekke en selfs in winkelsentrums.

POLOKWANE – Vir party mense is die woord ‘boelie’ net een wat terloops gehoor word – niemand in hulle gesin word daardeur geraak nie, maar vir ander het dié woord ‘n gesig, ‘n stem en mag oor hulleself of iemand vir wie hulle lief is.

Boeliegedrag kom algemeen voor – in ons skole, ons huise, by ons werksplekke en selfs in winkelsentrums.

Talle skole in die land, ook plaaslike, moes die afgelope twee maande traumaberaders ontbied om leerders by te staan na gevalle waar daar selfdood was – en met dié het boeliegedrag weer onder die loep gekom.

Review het met kliniese sielkundige Zelda Buitendag gesels oor hierdie verskynsel en waarom kinders boelie.

“Daar is baie navorsing gedoen ten opsigte van die uitwerking wat geweld en seks op televisie op kinders se houdings en waardes het. By hierdie lys kan die internet en selfone gevoeg word. Die internet het ‘n groot deel geword van ons kinders se opvoedkundige sowel as sosiale bestaan en dit stel hulle bloot aan nog meer geweld. Rekenaar- en selfoontegnologie het die skakels geword van ons kinders se sosiale netwerke,” verduidelik sy.

Volgens Buitendag het boeliegedrag twee komponente: die herhaaldelike skadelike gedrag, en ‘n wanbalans van mag. Dit sluit in aanhoudende fisieke, verbale of sielkundige aanvalle of intimidasie teen ‘n slagoffer wie hulself nie kan verdedig nie.

“Om geboelie te word kan blywende skade veroorsaak, hetsy of dit fisiek of emosioneel is. Dikwels genees die fisieke wonde vinnig, maar dan bly die emosionele littekens agter in ‘n swak selfbeeld. Boelie is ‘n poging om vrees en selfwalging aan te wakker in ander.”

Volgens Morné Marais, voormalige Mnr. Suid-Afrika-finalis en ambassadeur vir die Fighting Against Bullying and Abuse (Faba) Movement, is daar verskeie redes waarom mense mekaar boelie. Hy verduidelik die faktore is nie vir almal dieselfde nie.

Die volgende faktore kan redes wees hoekom kinders ander boelie:

• Gebrek aan aandag vanaf ouers, vriende en onderwysers.

• Direkte optrede van frustrasie en woede, probleme by die huis met ouers.

• Sommige kinders het geleer boelie van ander mense soos hul ouers, broers of susters en vriende.

• Gewelddadige films en videospeletjies. Kinders probeer gewoonlik die aksies uitvoer op mense wie kleiner of swakker as hulle is.

Kinders is egter nie almal engeltjies nie, en ouers moet op die uitkyk wees om te bepaal of hulle eie kinders nie dalk die boelies is nie. Volgens ‘n verskeidenheid inskrywings op sosiale media, is leerders dikwels te bang om hulle boelie aan te gee, aangesien dit die boeliegedrag kan vererger.

Buitendag verskaf idees oor hoe om sulke situasie te hanteer:

• Hou boek van al die voorvalle waar jou kind afgeknou word: “Teken elke voorval aan met datums, tye, getuies, optrede en gevolge. Fisiese boelie en kuberboelie moet aan die polisie gerapporteer word. Indien ander persone deel van die boelie gedrag is, moet dit ook aangeteken word.”

• Ondersteun jou kind en stel hom gerus: “Gesels met jou kind oor sy dag by die skool en wat gebeur het. Herinner hom dat jy hom wil help en dus ander mense moet betrek. Skakel ‘n berader, laat evalueer jou kind deur ‘n pediater en wees op die uitkyk vir tekens van depressie, angs en slaapprobleme.”

• Bou jou kind se selfbeeld op: “Help jou kind om sy sterk punte en goeie eienskappe raak te sien. Moedig hom aan om op dinge wat hy geniet te fokus.”

• Praat met jou kind oor die voorval voor jy die probleem oplos: “Moenie agter jou kind se rug ‘n afspraak maak met die onderwyser of die hoof nie. Berei jou kind emosioneel voor daarop dat die vergadering nie noodwendig glad gaan verloop nie.”

• Volg die regte lyn van kommunikasie: “Begin by die onderste deel van die kommunikasielyn, byvoorbeeld die klasonderwyser of graadhoof. Probeer die probleem eers op die laer vlak oplos voor jy na die hoof se kantoor gaan.”

• Bespreek die situasie met die onderwyser en hou ‘n oop gemoed: “Bespreek die situasie met die onderwyser en luister na wat hulle sê. Probeer om nie te skree en hulle aan te val nie.”

• Sê hoe jy voel, maar laat ander ook kans kry om te praat: “Bespreek jou kind se gevoelens en vra die onderwyser wat hy of sy van jou kind ervaar.”

Zelda voeg by dis belangrik om die klagte na persone in hoë posisies te neem sou die situasie nie verbeter nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version