Local News

KykNet Silwerskermprys vir Call of the Wild

Call of the Wild is die breinkind van Brett de Groot en Anika Barnard is die eerste blinde persoon wat aan die klanksafari-ervaring deelneem.

POLOKWANE – Call of the Wild, ‘n dokumentêre film deur Brett de Groot met plaaslike inwoner Anika Barnard (15) in die hoofrol is onlangs genomineer vir drie kategorieë by die KykNet Silwerskermfees.

Anika is sonder oë gebore, en nadat sy deur Santie en Kobus Barnard aangeneem is, het sy vele operasies ondergaan om glasoë te kry.

Lees meer: Rol in Silwerskermfilm vir Anika (15)

Hulle het ook gehelp om haar aan ‘n verskeidenheid opsies bloot te stel. Een daarvan is om die hoofrol in die dokumentêr, Call of the Wild, te speel.

Die verfilming van die prent het by die Ditsong Nasionale Museum van natuurgeskiedenis, asook in Hoedspruit plaasgevind.

Vir die opnames moes Anika ten minste 60 voëlklanke kon identifiseer.

Sy het olifante aan die manier hoe hulle hulle pote neersit herken en seekoeie aan hulle unieke geluide.

De Groot erken dit was ‘n uitdaging om met ‘n blinde persoon te werk.

“Iemand wat kan sien is heeltyd bewus van die kamera en so ook dan bewus van hulle gesigsuitdrukkings en lyftaal. Ek moes Anika laat ontspan en sekermaak sy volg my stem sodat sy moet weet waar om te kyk. Dit was ‘n ervaring soos min.”

De Groot gaan verder deur te sê die dokumentêr is nie ‘n hartseer storie oor iemand wat blind is nie, maar eerder ‘n voorbeeld van hoe bekwaam ‘n blinde persoon kan wees.

Call of the Wild is genomineer in die kategorie vir beste regisseur, beste klankontwerp en beste redigering.

Hulle stap uiteindelik weg met die wentitel vir beste klankontwerp, wat vir die span die kern van die dokumentêr en grootste beloning is.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button