Local News

Brande lê groot gebied in puin

Benewens die duisende hektaar wat afgebrand het, is eiendom, kragdrade en pale ook beskadig, wat veroorsaak het dat die kleinboere-inwoners sedert Saterdag sonder krag was en water dus ook nie na die area gepomp kon word om die vure te blus nie.

MOKOPANE – Inwoners, buurtwaglede, Working on Fire-personeel en die Mogalakwena brandweer was die naweek bedrywig om brande rondom Mokopane onder beheer te bring, met sterk winde wat dié uitdaging nog groter gemaak het.

Kleinhoewes op Uitkyk, Planknek, Maribashoek, Oorlogsfontein asook die munisipale gebied tussen die DBV en die Mokopane Biodiversiteitbewaringsentrum, die begraafplaas en die area rondom eenheid D is in puin gelê.

Benewens die duisende hektaar wat afgebrand het, is eiendom, kragdrade en pale ook beskadig, wat veroorsaak het dat die kleinboere-inwoners sedert Saterdag sonder krag was en water dus ook nie na die area gepomp kon word om die vure te blus nie.

Die veldbrand het etlike kilometers afgelê en landerye, oeste, vee, wild en eiendom vernietig.

Doné Swiegers, die bestuurder by die DBV verduidelik dat sy Saterdag ‘n oproep ontvang het dat die brand op hul drumpel is.

“In ‘n oogwink het die gemeenskap bymekaargekom en sowat 20 voertuie het stilgehou om ons by te staan. Ons het die vee na die middel van die eiendom geskuif waar die brand na verwagting nie sou heen versprei nie,” het Doné verduidelik.

Teen Sondag het die veldbrand reeds baie kilometers afgelê en landerye, oeste, vee, wild en eiendom vernietig, het sy bygevoeg.

“Die Here se genade was groot. Ons het teen die tweede dag skade bepaal, en was bitter dankbaar. Ons het die vuur nie met water bestry nie, en tog het die brand minder as ‘n meter van ons eiendom gestop.”

Mark Wreyford van Working on Fire sê sy span was die afgelope paar maande byna elke dag besig om lewens en eiendom onophoudelik te beskerm deur brande te blus.

“Die skade wat vanjaar aangerig is, was meer as die norm, en die hooffaktor bly die menslike faktor.”

Hieroor kan hy egter nie kommentaar lewer nie, aangesien verskeie ondersoeke aan die gang is, het hy bygevoeg.

“Met die laaste ramp wat Uitkyk, die Wildteelsentrum, Maribashoek, Planknek, Oorlogsfontein en Rooipoort getref het, was dit ongelooflik om te sien hoe Mokopane-gemeenskap, oud en jonk, bymekaargekom het om mekaar by te staan. Almal was moeg, maar het net aangehou.”

Wreyford het inwoners aangemoedig om deel te word van die Brandbeskermingsvereniging (Fire Protection Association).

“Die Working on Fire-span kan jou nie bystaan om ‘n brand te beheer indien jy as perseeleienaar nie aan dié assosiasie behoort nie.”

Hy voeg by dat terwyl sy span Sondag die brand wat by die Witkruis-monument uitgebreek het, bestry het, is een van sy brandbestryders in dié voorval beseer.

“Sy is per ambulans na ‘n privaat hospitaal in Polokwane vervoer en met haar aankoms met groot sorg en deernis behandel.”

Die Mokopane Besigheidskamer wil graag elke persoon wat op enige manier gehelp het om die brande te blus die afgelope naweek, hartlik bedank. “Jul onbaatsugtige optrede het baie mense se lewens en eiendomme gered. Julle het werklik jul lewens op die spel geplaas vir ander. Ons is opreg dankbaar vir jul bereidwilligheid en ongelooflike toewyding om almal veilig te hou.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button