Local News

Dr. Peet van Zyl: Groot gees weg

Ná ‘n tweede terugslag in Julie en ‘n lang hospitaalstryd is Van Zyl vroegoggend op Saterdag, 9 September 2023 oorlede in die ouderdom van 80 jaar.

POLOKWANE – Huldeblyke stroom steeds in ná die afsterwe van dr. Peet van Zyl, wat in Junie in Mediclinic Limpopo opgeneem is na ‘n fratsongeluk waartydens hy in ‘n vuur geval het.

Ná ‘n tweede terugslag in Julie en ‘n lang hospitaalstryd is Van Zyl vroegoggend op Saterdag, 9 September 2023 oorlede in die ouderdom van 80 jaar.

Van Zyl het bekendheid in die stad verwerf as diagnostiese radioloog vanaf 1983 waar hy by ‘n plaaslike praktyk aansluit. Sedert 1988 tot en met sy aftrede in 2008 was hy ‘n senior vennoot in die praktyk en een van die baanbrekers vir die bekende Radpath gebou langs Mediclinic.

Hy het diep spore getrap sedert 1982 by die Pietersburg Klub wat reeds 121 jaar bestaan.

Louis Changuion het in die eeufeesbundel geskryf “Pietersburg Club has shown it has a remarkable capacity for survival.” Hier kan getuig word dat dr. PP van Zyl wat as direksielid en voorsitter se insette ‘n groot impak gemaak het tot die behoud van een van die enigste en oorblywende “Gentleman’s Clubs” in Suid-Afrika. Hier was hy as erelid ‘n bekende gesig met sy Volkswagen Kewer (Volla) waar hy gereeld sy middagetes geniet het en was verseker die patriarg van die “Wednesday Club”.

Hy was ‘n groot rugbygeesdriftige en het noukeurig beplan en boekgehou van sy ervaringe.

Met sy baadjie, das en nie ‘n haar uit plek nie, getuig sy RWC toer maats, kon hy werklik met gesag praat van die hoogtepunte van die meeste van die Springbokke se kragmetings.

Met trots, soos Eddie Grieb (statistikus vir Sarfu), het hy 109 internasionale rugbywedstryde, ses rugbywêreldbekerfinale, 10 semi-finale, vyf kwartfinale en 20 Curriebekereindstryde bygewoon.

Hy het ‘n passie vir Porsche motors gehad en het al sewe van dié blitsmotors besit, hoewel hy byna daagliks met sy Volkswagen Kewer, wat in ‘n onberispelike toestand was, in die stad gesien is.

Die Porsche 911 Carrera 4S en die Cayenne S, wat steeds in sy besit was, het talle mense na spesiale geleenthede “gechauffeur” oor die jare. Van Zyl was ‘n kranige motorentoesias en ‘n bekende gesig regoor die land by motorskoue met sy voertuigversameling.

Hy was ook ‘n geesdriftige reisiger en het die Porschefabriek in 2016 besoek en ook die 24-uur Le Mans motorwedren in Frankryk bygewoon.

Van Zyl se liefde vir jag was meer as net ‘n liefde – dit was ‘n lewensvervullende passie wat hy op ‘n baie hoë standaard vooraf bestudeer, beplan en nagejaag het. Hy was ‘n lid van S.A. Jagters en Wildbewaringsvereniging sedert 1971 waartydens hy op die uitvoerende komitee en as president gedien het, asook lewenslange erelid en lid van die Erfenisraad.

Sy merkwaardige versamelings is vir seker een van die beste voorbeelde van sy toewyding, kennis en vernuf. In 1991 ontvang hy die Pour Le Mérite toekenning vir uitsonderlike diens asook die Musgravetrofee wat die hoogste toekenning vir trofeejag in Suid-Afrika is.

Altesaam 64 spesies pryk in sy ongeëwenaarde trofeekamer met onder andere die groot vyf en die besonderse Damaraland dik-dik, jagluiperd en die Angolese swartgesig impala insluit.

Hy was ‘n meester op hierdie gebied. Baie sal probeer, maar min sal hom inhaal.

Tydens sy eerste reis om die wêreld in 1973, wat oor 27 lande in drie-en-‘n-half maande gestrek het, het sy passie vir reis ontwikkel. Nog 19 keer in die buiteland, 40 lande, drie Olimpiese Spele, die Aurora Borealis en die Middernagson in die Noordpool verder, besluit hy en sy goeie vriend Attie Vermaak om op die ouderdom van 52 in 1996 die berg Kilimanjaro aan te durf. Na ‘n jaar se oefen en fiksword het hulle toe die berg soos ‘n vriend ontmoet en die hoogste punt, Kibo, al langs die Machameroete bereik.

Van Zyl is in 1943 in Steynsrus in die Vrystaat gebore en het daar skoolgegaan.

Na sy militêre diensplig in die S.A. Vlootgimnasium, het hy sy B.Sc-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en daarna oorgeslaan na medies en die grade MB ChB in 1970 agter sy naam geskryf. Hy het daarna in diagnostiese radiologie gespesialiseer en ‘n meestersgraad verwerf.

Hy was ook ‘n dosent aan die Universiteit totdat hy in 1982 na die destydse Pietersburg verhuis.

Hy word oorleef deur sy dogter Sanmari (Dol) en sy drie Enslin-kinders, Annerita, Mariaan en Willem, en sewe kleinkinders. Sanmari is gebore uit sy huwelik met Hester, wat in 1995 oorlede is.

Sy Dol, dogter, kameraad, leerling, drywer – wat sy passies in sy lewe gedeel het – sal beslis dié legendariese man se herinneringe laat voortleef.

Soos Willem beskryf: “tuff met old school habits… maar ‘n groot olifant met baie wysheid, die beste jagter, leermeerster, vriend en pa.”

‘n Roudiens word op Woensdag, 20 September om 11:00 by die N.G. Moedergemeente gehou en ‘n begrafnis sal op Vrydag, 22 September om 11:00 uit die N.G. Kerk, Steynsrus in die Vrystaat gehou word.

‘n Skakel sal ook op Facebook geplaas word, waarop die diens uitgesaai sal word, op die blad “Peet van Zyl Tribute”.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button