Local News

Hekelwoorde se Tania kuier by PHS

Die geleentheid was ‘n voorlesingaand uit haar twee bundels, Hekelwoorde en Heelword.

POLOKWANE – ‘n Opgewonde gedruis is hoorbaar in Hoërskool Pietersburg se saal verlede Dinsdag, toe sowat 200 vroue byeenkom vir ‘n voorlesingaand deur Tania Smit, oud-Pietie en deesdae skrywer.

Smit vertel dat sy nie op skool juis ‘n skrywer was nie, maar dat tale wel haar sterk punt was.

“In 2013 het ek en my vriendin deur die Karoo gereis toe ons met my pa se bakkie in die middel van nêrens gaan staan het. Ek het ‘n storie oor dié ervaring geskryf en daarna het my skryfwerk vlerke gekry.”

Sy vertel hoe sy haar eerste boek, Hekelwoorde, gepubliseer het op versoek van vriende.

“Ek het nie die selfvertroue gehad om dit te publiseer nie, maar terselfdertyd wou ek iets nalaat vir my kinders,” sê sy.

Sy onthou op skool was sy redelik sosiaal.

“‘n Mens dink mos altyd jy is anders as wat ander mense jou sien. Ek was redelik sosiaal, redelik sportief, gek oor musiek en altyd ‘n voorvegter vir my beginsels of die onderduktes. Daar was wel baie jare waar ek nie in die ingroep was nie, en dit was swaar. Ek voel nou nog maklik uitgesluit as gevolg van daardie jare. Dinge het eers in my tienerjare begin ‘inskop’, en toe het eie groter prent mooier begin voel vir my.”

Sy erken dat skryf en voorlesings haar passie is.

“Ek het nog altyd ‘n voltydse loopbaan gehad, eers as finansiële beplanner vir ‘n privaat bank, en tans werk ek vir ‘n groot eiendomsmaatskappy. Dis ‘n konstante oefening om my lewe te probeer balanseer en al die balle in die lug te hou, en my tekort aan balans het deur die jare al talle kere tot uitbranding gelei. Dit sou egter wonderlik wees as ek wel ‘n loopbaan van skryf en voorlesings kon maak, en ek werk hard om daardie droom te verwesenlik.”

Tania sê sy hou van eerlike mense, maar kritiek is maar soms taai.

“Dit is ‘n faset van my persoonlikheid waaraan ek hard werk, en nog baie aan skaaf. Ek sal wel altyd teruggaan en regmaak as ek verkeerd reageer het, maar die eerste reaksie is maar altyd ‘n baie onwaardige affêre.”

Wanneer ‘n mens na haar voorlesings luister, weet jy die stukke is uit ‘n diep plek geskryf.

“In my skryfwerk is daar geen skeiding tussen my persoonlike lewe en my gevoelens nie. Ek is ‘n geweldige eerlike mens, ek het eintlik nie ‘n filter nie, en dis ook ‘n slegte ding, glo my. Maar in my skryfwerk is dit my voordeel, omdat ek nie skaam is om my emosies op papier te sit nie. My enigste reel is dat ek niemand wil benadeel met my skryfwerk nie, en ook probeer om op die universele aard van die emosie te fokus.”

Die handelsnaam ‘Hekelwoorde’ het ‘n geskiedenis.

“My skoolvriendin, Keina het my aangeraai om ‘n Facebookblad te begin, en ek het langs die sportveld gesit terwyl ek my blad oopgemaak het. Die woord ‘Hekelwoorde’ het by my opgekom, en ek het net dadelik gevoel dis reg, sonder om te weet hoekom. Eers later, as ek op WhatsApp met mense gesels het, het ons fone se ‘spellchecker’ die woord Hekelwoorde na Heelword verander. Ek het toe eers besef dat dit die regte naam van die blad is. Die woorde het baie heling vir myself gebring, en ek is bevoorreg om ook te kan beleef hoe die vergifnis in die woorde vir ander mense heling bring, veral vroue.”

Sy sê sy skryf dikwels soos die woorde haar oorval, en “ek moet dikwels langs die pad stop om eers die woorde vas te lê. As die woorde eers verdwyn het, kom hulle nooit weer terug nie. Sy kan egter glad nie op versoek skryf nie, of onder druk nie.”

Lees meer oor haar voorlesingaand by PHS in hierdie week se Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon. – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button