Local News

Lapua bring geluk by Piet Potgieter Monument Ouetehuis

Die doel van 'n terapiehond is vir bejaardes om te kan uitsien na 'n besoek van 'n dier, juis omdat daar nie roeteldiere aangehou mag word nie.

MOKOPANE – Met die eerste intrapslag by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis het Lapua bykans dadelik ‘n glimlag op elke bejaarde inwoner se gesig gesit.

Lapua, ‘n Argentynse Dogo, maak weekliks ‘n draai by inwoners van dié tehuis.

Dié tipe honde word eintlik geteël om bosvarke in Argentinië te jag, maar vir Lapua is dit ‘n ander storie.

Lapua die Argentynse Dogo gaan kuier weekliks vir bejaardes by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis.

Hy het egter ‘n baie rustige persoonlikheid en sal veel eerder by die tehuis gaan kuier. Lapua was van babatyd af ‘n sieklike hond gewees. Hy het ‘n sensitiewe veltoestand en sukkel maar met die heupe en daar is ‘n senuwee wat tussen twee werwels vasgeknyp word. Maar by dié tehuis is hy reeds soos ‘n inwoner.

“Hy pas so goed in, omdat hy ‘n jong hond is met ‘n ou liggaam en ‘n ou gees,” vertel Antoinette Human, sy eienaar. Hy is nie ‘n opgeleide terapiehond nie, maar op die ouderdom van drie het hy wel basiese gehoorsaamheidsopleiding ontvang waar hy die meeste van sy maniere geleer en behou het.

Lorraine Scholtz is baie lief vir diere, en sien elke week uit na Lapua se kuier.

Die doel van ‘n terapiehond is vir bejaardes om te kan uitsien na ‘n besoek van ‘n dier, juis omdat daar nie roeteldiere aangehou mag word nie.

Lapua vul egter hierdie gaatjie in hulle harte, vir dié bejaardes wat steeds na die liefde van ‘n troeteldier hunker.

“Die Kosmoseenheid by die Alzheimerafdeling se bejaardes geniet Lapua se teenwoordigheid veral. Omdat hulle vergeet, is hierdie weeklikse interaksie elke week vir hulle nuut. Daar is ook ander bejaardes wat hom onthou en nie kan wag om hom weer te sien nie.”

Elsie Enslin geniet Lapua se kuiertjie. Regs: Lapua die Argentynse Dogo gaan kuier weekliks vir bejaardes by die Piet Potgieter Monument Ouetehuis.

Die uitstappies het nie net ‘n positiewe uitwerking op die bejaardes nie, maar is ook vir Lapua goeie terapie, vertel Antoinette.

“Lapua is nou al mooi aangepas by die tehuis en weet presies waarheen om te gaan. Enige hond kan ‘n terapiehond word – hy hoef nie noodwendig ‘n gespesialiseerde opgeleide hond te wees nie, want Lapua se temperament is goed en die mense geniet hom baie. Ek dink enige hond wat ‘n rustige temperament het kan doen wat Lapua doen.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button