Hulp gevra vir 2-jarige Gavin wat aansterk in TLC-eenheid

Die jong Gavin van Kasterop van Modimolle is egter 'n uitsondering, soos talle ander kinders wat met kanker gediagnoseer is.

POLOKWANE – Op ouderdom twee-en-‘n-half speel die meeste kinders in die tuin, klim en klouter en sit eintlik nie vir ‘n enkele oomblik stil nie.

Die jong Gavin van Kasterop van Modimolle is egter ‘n uitsondering, soos talle ander kinders wat met kanker gediagnoseer is.

Gavin se ma, Marlize, sê voor die diagnose was Gavin ‘n gesonde kind.

“Ons het in Mei ‘n knoppie op Gavin se kakebeen, net onder sy oor, opgemerk. Ons het hom dokter toe geneem, waar ons meegedeel is hy het pampoentjies. Ons het nie medikasie gekry nie.” Vir die volgende drie weke het sy toestand egter net vererger, en hulle is na vele dokters uiteindelik na ‘n pediater verwys, waar hulle gehoor het Gavin was siek met ‘n vergrote lewer en milt. Die gesin is egter nie lede van ‘n mediese fonds nie, en Gavin word by die Pietersburg Provinsiale Hospitaal se Tough Living with Cancer (TLC) saal behandel.

Daar is X-straal plate van hom geneem, bloed getrek en sy beenmurg is ook getoets.

Bykans ‘n week nadat hulle die pediater die eerste keer gesien het, kry sy ouers die nuus dat alles daarop dui dat Gavin leukemie het en chemoterapie word dadelik aanbeveel.

“Op die eerste dag was Gavin baie swak, maar na die tweede dag het dit beter gegaan, Hy hanteer dit verbasend beter as wat dié mammahart gedink het hy gaan. Hy is ons vegtertjie en ons weet Jesus stap elke tree saam met hom.”

Sy erken dit was vir hulle as ouers ‘n reuse skok om te hoor hulle kind, wat eintlik moet speel en die wêreld verken en op die plaas tussen die diere rondhardloop, nou in ‘n hospitaalbed moet lê.

“Ons bly sterk en ons bly op ons knieë dat Jesus hom sal genees. Ons weet hier gaan ‘n wonderwerk gebeur waaroor ons aan die einde vir baie mense kan getuig.”

Gavin is ‘n vleistegnikus en Marlize werk by ‘n motorwassaak wat aan die familie behoort. “Die karwasbesigheid het ‘n daaglikse inkomste gebied, wat nou heeltemal stilstaan aangesien ek en my ma self die voertuie was.”

Sy sê hulle het baie ondersteuning van die familie, maar dié is ongelukkig self nie in ‘n posisie om finansieel ‘n bydrae te maak nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version