Karatewêreld is waar Imke presteer

Imke Lottering, 'n leerder aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, is deel van JKA Pietersburg Karateklub waar sy twee aande 'n week oefen.

POLOKWANE – Harde werk bepaal dikwels sukses, en op die karatemat is dit beslis ook waar vir Imke Lottering (14).

Imke, ‘n leerder aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, het op ‘n baie jong ouderdom aan karate begin deelneem.

“My pa het gesê ek moet deel word van die karatewêreld aangesien dit goed sal wees vir selfverdediging. Dit is toe ook so, want toe hy my nou een aand van agter af gryp, kon ek myself met gemak verdedig.”

Imke is deel van JKA Pietersburg Karateklub waar sy twee aande ‘n week oefen.

Sy het verlede Woensdag van rooi na bruin gordel gegradeer en sy werk daaraan om op 16 na haar eerste dan te gradeer.

“Ek moet nog twee bruin gordels gradeer en dan my junior swart gordel kry voor ek die dan kan kry. Ek geniet alles van die sport, en by die kompetisies hou ek daarvan om te sien daar is soveel ander mense wat dieselfde passie en liefde as ek het. My pa en sussie neem ook deel aan karate.”

Sy erken dit is dikwels moeiliker om teen seuns te veg.

“Daar is nie meisies op my vlak nie en dus moet ek altyd teen iemand in ‘n laer of hoër vlak veg. Selfs die meisie wat in die hoër vlak as ek veg, se geveg is makliker as dié teen die seuns. Ons oefen dikwels ook teen volwassenes en teen sensei Piet van Rensburg.”

Van Rensburg prys Imke vir haar harde werk.

“Sy het op ons JKA Suid-Afrikaanse kampioenskappe op 28 en 29 Julie ‘n brons medalje verower vir kata meisies rooi gordel o/14. Sy het op 9 Augustus gegradeer na bruin gordel. Sy is ‘n karateka met baie potensiaal. Daar het meer as 3 000 karatekas deelgeneem aan die kampioenskap en haar medalje is beslis ‘n groot prestasie.”

Imke staan haar vrye tyd af aan sport en neem ook deel aan netbal, fietsry en perdry.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version