Mia het gehoortoetse nodig, kan jy bydra?

Waar ander kinders van Mia se ouderdom al heelwat woorde, en selfs tweewoordsinne kan sê, praat Mia nie 'n woord nie.

POLOKWANE – Terwyl haar maats by die kleuterskool rondom haar lag en gesels, is Mia Deacon (2) onbewus van wat om haar aangaan. Selfs harde geluide wat haar juffrou maak, het geen sigbare effek op haar nie.

Mia se ouers, Rocky en Michelle, is baie angstig oor wat die probleem kan wees. Hulle oudste seun, Jayden, is vyf jaar gelede, kort na sy geboorte, met ‘n vergroeisel in sy maag gediagnoseer wat na vele toetse verwyder is.

“Vandag is Jayden ‘n gesonde kind wat nie vir ons enige probleme gee nie,” sê Rocky.

Terwyl ons gesels speel Jayden en sy ander sussie, Micaylah (4), maar ook hier is Mia in haar eie wêreld.

Volgens Rocky het die personeel by haar kleuterskool hulle bewus gemaak van die probleem.

Hulle is uiteindelik na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal vir hulp.

“Daar het hulle vir ons gesê daar is niks fout nie. Dit is asof dit ‘n herhaling is van wat destyds met Jayden gebeur het. Ons weet daar is fout, maar ons het nie die finansies om by die Oorinstituut aan te klop nie.”

Waar ander kinders van Mia se ouderdom al heelwat woorde, en selfs tweewoordsinne kan sê, praat Mia nie ‘n woord nie. Rocky sê sy probeer wel, maar dit is duidelik dat sy nie weet hoe nie.

“Ons sit soms vir haar ‘n TV-storie aan en sy dans graag saam met die karakters. Dit beteken nie dat sy kan hoor nie, sy volg net wat die karakters doen.”

Michelle en Rocky werk beide voltyds, maar dit gaan soms raap en skraap om Mia se hulp te befonds.

“Ons is gebroke en hulpeloos. Dit is glad nie lekker om te weet ons kan niks vir ons prinses doen nie. Ons hoop iemand wat hier lees, sal dit goeddink om ons te help.”

Indien jy wil help, kontak Rocky by rockyallendeacon37@gmail.com.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version