Local News

JJ Fourie – ‘As die lewe jou platslaan moet jy opstaan’

Toe JJ Fourie in 2019 letterlik en figuurlik met die teerpad kennis gemaak het, het sy lewe binne minute verander.

POLOKWANE – Wanneer die lewe jou platslaan het jy twee opsies – of jy bly lê of jy staan op en gaan aan.

Toe JJ Fourie in 2019 letterlik en figuurlik met die teerpad kennis gemaak het, het sy lewe binne minute verander.

JJ is ‘n sportiewe man wat dit voorheen geniet het om deel te neem.

Na ‘n motorfietsongeluk sy been geëis het, moes hy sy deelname aan talle sportsoorte beëindig.

“Ek was in 2019 in ‘n motorfietsongeluk betrokke nadat ‘n motoris ‘n verkeerslig verontagsaam het. My motorfiets het uitgebrand en ek het my regterbeen baie seergemaak. ‘n Kennis het my hospitaal toe geneem, waar ek 59 dae moes deurbring. Hier het hulle alles probeer om my been te red.”

Na hy ontslaan is, was hy vir twee maande in ‘n rolstoel en in die grendeltyd het hy homself weer leer loop.

“Ek het vir my ‘n stut laat bou wat my in staat gestel het om meer normaal voort te gaan, maar die pyn het alles oorheers en ons het besluit op ‘n onder-die-knie amputasie. Agt weke later het ek die prostese gekry, aangesit en dadelik geloop.”

JJ erken sy lewe was voorheen nie wat dit moes wees nie.

“God het vir my talle waarskuwings gegee waarna ek nie geluister het nie. Tot Hy my lewe tot stilstand geruk het sodat ek die regte pad moes volg”

JJ is ‘n gedugte gholfspeler en vertel dat die verlies van sy been sy spel baie beïnvloed het.

“Ek moes weer van voor af leer speel. Ek het voor die ongeluk aan verskeie ander sportsoorte deelgeneem, maar die vrees om myself seer te maak, maak dat ek eerder op die kantlyn bly.”

Sy verhoudings het ook skade gely, vertel hy, aangesien hy mense begin wegstoot het na die ongeluk.

“Ek het nie simpatie gesoek nie en kan dit nie verdra as mense alles vir my wil doen nie. Ek kan self funksioneer. As ‘n kind na my bene staar, sal ek met liefde verduidelik wat gebeur het. Ek hou van die kinders se onskuldige nuuskierigheid.”

Emosioneel en geestelik is dit nie elke dag vir JJ maklik nie, en hy erken dat dit soms langer neem om op te staan as ander dae, maar hy probeer gemotiveerd en positief bly.

Daar is nog baie dinge wat hy nie kan doen nie, maar met harde werk en klein stappies, is hy vasbeslote om bo uit te kom.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button