Binnelanders se ‘Louis’ bekoor aanhangers in Polokwane

Beter bekend as Louis in die TV-reeks Binnelanders, het Germandt Geldenhuys die gehoor Saterdag met sang en staaltjies by Noordgemeente van Liefde en Omgee vermaak.

POLOKWANE – Sy ma wou hom ‘Gert’ noem en sy pa, ‘Armand’. En so kom hulle toe tot ‘n vergelyk en kry Germandt Geldenhuys sy naam.

Beter bekend as Louis in die TV-reeks Binnelanders, het Germandt die gehoor Saterdag met sang en staaltjies by Noordgemeente van Liefde en Omgee vermaak.

Germandt Geldenhuys beweeg deur die gehoor.

“My pa was ‘n pastoor en al musiek waarna ons geluister het, was gospel. Toe ek op kollege kom, kry ek ‘n algehele kultuurskok. Hier word ek voorgestel aan ander soorte musiek en net daar besluit ek ek moet heropgelei word as dit by musiek kom.” Met sy opleiding toer hy deur elke jaar se gewildste musiek, van Funiculì, Funiculà van Luciano Pavaroti, tot Queen se Somebody to Love.

Hy vertel hoe liedjies ook soms groter betekenis kry.

Marinda en Mauritz de Bruin is opgewonde om Germandt te sien optree.

Sy goeie vriende en kollega, Bradley Olivier (Danny in Binnelanders) is twee weke voor sy optrede in Polokwane oorlede.

“Ek was twee Sondae voor sy dood by ‘n diens waar die boodkap was dat ons meer vir mekaar moet sê dat ons mekaar liefhet. Ek het vir Bradley gebel en vir hom gesê ek is lief vir hom. Hy het eers gewonder wat ek makeer, maar na die derde slag, het hy dit aanvaar en teruggesê. Ek het op sy begrafnis gesing, maar dit was een van die moeilikste dinge om te doen.”

Kayleigh Steyn saam met haar sibbe Stanley Holloway en Megan Steyn.

Germandt het ook ‘n liedjie uit sy eie pen, ‘Ek sal Jou Bly Liefhê’, gesing.

Vir ‘n ligte atmosfeer verlede week het hy verskeie ander liedjies gesing, onder andere Jantjie, Kom Huis Toe met ‘n effense Kinkel, asook Karoonag.

Voor: Hester van Tonder, Thea van Wyk en Leonardo van der Schyff. Agter: Terrens en Charian van Wyk.

Sy afsluitwoorde aan die gehoor was eenvoudig: Maak tyd vir mekaar, en toe word daar gesmeek vir ‘n laaste liedjie.

Sandra, Ben en Beandri Redelinghuys kyk as gesin saam na die vertoning.

“Ek is so bly ek het na Germandt se opvoering kom kyk. Hy is presies dieselfde in die regte lewe as wat hy in Binnelanders is. ‘n Mens kan sien hy het ‘n sagte hart,” het Melissa Herbst, een van die besoekers opgemerk.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version