Local News

Die Kierieklapper Kunstefees is hier

Na 'n uiters suksesvolle fees in Augustus verlede jaar is dié fees vanjaar weer volstoom aan die gang van 3-6 Augustus by Hoërskool Piet Potgieter.

MOKOPANE – Die 21ste Kierieklapper Kunstefees is hier met ‘n stampvol program wat enige musiek- en skouliefhebber se naweek sal opkikker.

Na ‘n uiters suksesvolle fees in Augustus verlede jaar, wat deur sowat 8 000 feesgangers besoek is, is dié fees vanjaar weer volstoom aan die gang van 3-6 Augustus by Hoërskool Piet Potgieter.

Of jy op soek is na ‘n handgemaakte leerproduk, of jy jou klerekas wil opgradeer met nuwe voorraad, die Kierieklapperfees bied iets vir elke sak en smaak.

Hoewel dit ‘n heerlike uitstappie vir die hele gesin is, bly die fokus van die fees om geld in te samel vir die bejaardes van die dorp.

Die fees is een van die belangrikste geldinsamelingsprojekte van die Dienssentrum vir Bejaardes, dit sorg dat daar daaglikse ‘n bord kos voorsien word vir die bejaardes van die dorp.

Die komitee is baie opgewonde om die naweek weer saam met die gemeenskap te kan kuier.

Die naweek beloof ‘n opwindende en propvol program met selfs ‘n pretpark vir die jonges.

Die bloedbank in Thabo Mbekistraat sal elke skenker beloon met ‘n kaartjie vir gratis bier by Kameeldoring Tafelronde se biertent, so maak seker jy gaan doen jou deel!

Vir die fikses is daar Saterdagoggend ‘n pretdraf met groot pryse.

Jy kan vir ‘n 4km of 8km inskryf, en die wegspringpunt is in Pretoriusstraat.

Kunstenaars soos Dewald Gouws, Jan Jan Jan, Jan Raap, Francois Bouwer, Jennifer Zamudio, Riaan Benade, Early B, Dillion Lerm, Ivan Roux en Jo Black gaan vir lekker voetstampoomblikke op die verhoog sorg.

Kaartjies is by die hekke beskikbaar:

Vrydag kos jou R120 per persoon, en Saterdag R140 per persoon. Laerskoolkinders en pensioenarisse betaal R50 per persoon en toegang vir voorskoolse kinders is gratis.

Die hekke open daagliks om 09:00 en sluit om 21:30.

Sien jou daar!

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button