Broers se bobaas brandrissiesous

Pierre Fouche en sy broer Bertus is lief daarvoor om in die kombuis te werk en het onlangs souse van brandrissies begin maak.

POLOKWANE- Om lekker kos te maak is nie net ‘n passie vir Pierre Fouche nie, maar iets wat ook sommer ‘n paar gate toestop waar nodig.

Pierre en sy broer, Bertus, is lief daarvoor om in die kombuis te werk en het onlangs begin om souse van brandrissies te maak. Spoedig het dit vir hulle sakke begin werk.

“Ons het op sosiale media ‘n video gesien oor brandrissies en die saadjie is geplant. Ons het besluit om ons eie brandrissiesouse te begin maak en het begin oplees oor dié stokperdjie.”

Die broers skerts dat dit hulle eie skuld is dat hulle vroue nooit kosmaak nie.

Voorbeelde van die brandrissie souse.

Hulle deel ‘n liefde en passie vir kosmaak en het maklik begin eksperimenteer met brandrissies. “Na heelwat toetslopies het ons ‘n suksesresep beet. Die smaak van die sous verg beplanning en ons gebruik slegs natuurlike produkte in die sous. Om ‘n beter kleur te kry, voeg ons verskillende soorte vrugte by.”

Die mengsels word vir 10 dae gefermenteer waar dit nie in kontak met suurstof kom nie. Daarna voeg hulle stabiliseerders by. Die produk word gekook om die fermentasieproses stop te sit. Nadat die sous in gepasteuriseerde bottels gegooi is, staan dit vir twee weke voor die etikette opgeplak word en die souse verkoop kan word.

Bertus sê hulle gebruik nie gewone tafelsout met iodien in nie. “Ons koop die brandrissies aan en het vinnig geleer dat hulle smaak afhang van waar hulle groei. Ons probeer wel om die souse so na as moontlik aan mekaar te laat proe.”

Hulle het op die naam Bee Sting besluit aangesien die souse ‘n byt het wat elke dis kan komplimenteer. “Om ‘n produk te maak wat net brand is nie moeilik nie, maar die uitdaging lê daarin om dit na iets te laat smaak,” sê Bertus.

Voorbeelde van die brandrissie souse.

Die broers verkoop hulle souse by talle markte in die stad en dit is ook by slaghuise beskikbaar. “Ons het nog baie idees, soos om ‘n resep saam met die sous te gee waarin die sous gebruik kan word. Ons wil ook van die vrugte fynmaak en speserye daarvan maak,” sê Pierre.

“Iets interessant wat ons geleer het, is meer kreukels op die brandrissie is, hoe hoër is die Scoville brandeenheid,” sluit Bertus af.

Interessante feite:

Brandrissie se brand word met die Scoville Skaal (Scoville Heat Units of SHU) gemeet.

• ‘n Gewone soetrissie: Geen brand eenhede.

• Tabasco Hot Sauce: 2 000-5 000 SHU.

• Jalapeno Pepers: 2 500-8 000 SHU.

• Serrano Pepers: 10 000-23 000 SHU.

• Habanero Pepers: 100 000-350 000 SHU.

• Pure Capsicum: 16m SHU.

‘n Capsicum is ‘n ander naam vir brandrissiepeper. In die wetenskap verwys dit na die groep blomplante in die nastergalfamilie Solanaceae.

Glasbottels is beter vir verpakking aangesien plastiek nie goed vir die brandrissies is nie.

Voorbeelde van die brandrissie souse.

Stop die brand:

Om die brand van ‘n brandrissie op jou vel te stop:

• Gebruik gewone skottelgoedseep en water.

• Olyf olie of enige ander groente olie.

• Koeksoda.

Om die brand van ‘n brandrissie in jo oë te stop:

• Week handoekpapier in melk en jou dit teen jou oë.

Om die brand van ‘n brandrissie op jou tong of in jou mond te stop:

• Drink melk of eet melkprodukte.

• Sit suiker in jou mond.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version