Local News

O’Reilly-familie groet geliefde Ma Lynne (76)

Lynne O'Reilly was vir 45 jaar 'n inwoner van die stad, en het vir meer as 25 jaar by Kansa in Polokwane gewerk.

POLOKWANE – Die O’Reilly-broers en -familie betreur die afsterwe van Ma Lynne verlede week in die ouderdom van 76.

Daar is in Mei ‘n kwaadaardige gewas in haar buik ontdek en verwyder, maar kanker was in hierdie stadium reeds ver versprei en sy is na ‘n siekbed van twee weke oorlede.

Lynne het destyds biblioteekkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer en in 1969 is sy met Johnnie O’Reilly getroud. Drie seuns is uit die huwelik gebore: Johnny, Peter en Brian.

Sy was vir 45 jaar ‘n inwoner van die stad, en het vir meer as 25 jaar by Kansa in Polokwane gewerk. Jare later het sy ook by Projects 2000, Johnny se saak, betrokke geraak.

Haar seuns beskryf vir Ma Lynne as ‘n liefdevolle, onselfsugtige versorger.

“Sy het gesorg en omgegee vir mens, plant en dier. Sy kon baie, en lekker kos maak, om ons drie groot te kry. Sy het ‘n goeie sin vir humor gehad en ons kon haar tog so lekker terg en haar siel uittrek.”

Haar menswees gaan ook deur haar drie skoondogters, Marethe, Valerie en Marika, gemis word.

“Ma Lynne was onvoorwaardelik. Niks was moeite nie. Sy was ‘n goeie voorbeeld van ‘n liefdevolle huweliksmaat, ma, skoonma en ouma. Sy was altyd gewillig om te help met die kleinkinders en ‘n vrou van geloof en God,” beaam hulle.

Vir haar agt kleinkinders was sy meer as net ‘n ouma. Hulle vertel: “Ouma Lynne het met ons gespeel, buite, binne, bordspeletjies en selfs saam met ons bal geskop. Sy het graag vir ons gelees en sy het ons bly voer, al was ons reeds versadig. Sy het vir al ons diere omgegee, en elkeen van ons spesiaal laat voel. Sy het ons opgesoen en gedruk. Sy het altyd iets lekkers saamgebring vir na ete en sy het die beste macaroni-en-kaas gemaak.”

Haar vriende is dit eens dat Lynne ‘n vriendin was wat niks in ruil wou terughĂȘ nie, iemand wat vrolik, fiks en vol lewe was.

Ma Lynne word oorleef deur haar seuns, Johnny, Peter en Brian, skoondogters Marethe, Valerie en Marika asook kleinkinders Robert, Brendan, Ryan, Mia, Ruben, Lua, Peter en Amy en ‘n suster, Suzette Rousseau.

Haar diens vind op Dinsdag, 18 Julie om 11:00 plaas vanuit die Gereformeerde Kerk in McDonaldstraat.

Die teraardebestelling is om 10:00 by die Cheunespoortpad begraafplaas.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button