Arts ry 2 500km op trekkers om kinders te help

dr. André Hattingh, die stigter en uitvoerende hoof van Pediatric Care Africa het Sondag sy tweede ‘On Trac-Tor’-rit van Nelspruit tot Burgersfort afgeskop.

MOKOPANE – Met Olaf en Betsie die twee gelukbringers vasgemaak aan die Mahindra 86-110 trekker, is hulle gereed om saam met dr. André Hattingh 2 500km deur vyf provinsies te toer.

Hattingh, die stigter en uitvoerende hoof van Pediatric Care Africa het Sondag sy tweede ‘On Trac-Tor’-rit van Nelspruit tot Burgersfort afgeskop.

Teen 26km/u het hy Maandagoggend tot in Mokopane gery.

“Dit was ‘n baie mooi pad tot in Zebediela, toe is dit ‘n bietjie van ‘n stamperige rit tot net voor Mokopane,” vertel hy.

Die belofte om siek en weerlose kinders te help, is ‘n belofte wat hy byna 30 jaar gelede gemaak het, en een wat hy nie sommer vergeet nie.

Hy is vasberade om dié belofte te hou, en het Pediatric Care Africa in 2017 gestig, spesifiek met die doel om professionele mediese sorg aan arm kinders te lewer – selfs al beteken dit dat hy 2 500km op ‘n trekker moet ry om dit te kan doen.

“Ons land se kinders het hulp nodig. Hulle word nie versorg nie, en talle het ‘n desperate behoefte aan mediese hulp. Pediatric Care Africa ontvang geen finansiële hulp of toelae van die regering nie en ons moet ons eie inkomste en geld ten volle genereer om die kinders van Suid-Afrika te help.”

Die huidige rit het juis ten doel om geld in te samel vir operasies wat te groot is vir die gewone fondse, sê hy.

Hy wil verder ook bewustheid skep, sê Hattingh hoor die moord-, verkragting- en mishandelingsyfers van kinders, wat volgens hom grens aan syfers van lande waar daar oorloë is.

Die ander rede, sê hy, is om internasionale aandag op plaasmoorde te vestig, en die bewusmaking van hoe belangrik die rol van boere is – en dis juis hoekom Hattingh hierdie reis op ‘n trekker aanpak.

“Ons ondersteun die ‘911 Riders’ in hul strewe om plaasmoorde in die land te bedwing en ons wil hê die wêreld moet van dié grusame misdade weet. Ons kan dit nie alleen doen nie en ons vra hulp vir die kinders en mense wat op ons staatmaak om te kan help.”

Deur jou bydrae kan die volgende geborg word:

• Borg die trekkerbestuurder, dr. André Hattingh, per kilometer wat hy ry.
• Maak ‘n eenmalige of maandelikse skenking om hulle te help om weerlose kinders te help.
• Babamelk (alle soorte)
• Diesel vir die “On–Trac-Tor” liefdadigheidrit.
• Word ‘n vrywilliger by Pediatric Care Africa.
• Hospitale en dokters regoor die land kan help met byvoorbeeld, twee gratis konsultasies per jaar vir siek kinders in ‘n spesifieke dorp, of twee gratis operasies per jaar by ‘n privaat hospitaal in ‘n spesifieke dorp vir kinders in die area.

Hulle doen ‘n beroep op alle boere-unies en organisasies op die trekkerroete om die pogings met hierdie kritieke kwessies te ondersteun.

Vir meer inligting oor Pediatric Care Africa besoek gerus die webtuiste by: www.pediaticcareafrica.org.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version