Handré Winnertz se afsterwe betreur

Handré Winnertz se afsterwe is ‘n groot skok vir sy familie en die gemeenskap van Mokopane.

MOKOPANE – Handré Winnertz, ‘n oud-inwoner van Mokopane en die seun van Ford en Isabelle Winnertz, is op 18 Junie 2023 skielik oorlede.

Handré se pa, Ford, was vir 45 jaar ‘n prokureur by Borman Snyman & Barnard voordat hy vroeër in die jaar as vennoot uitgetree het en sedertdien as konsultant by Borman Snyman & Barnard werksaam is en tans woonagtig is te Grootbrakrivier.

Handré is gebore op 16 Januarie 1983, hy het sy laerskoolloopbaan aan Laerskool Krugerpark voltooi en sy hoërskoolloopbaan by Hoërskool Piet Potgieter.

Handré was onder andere ‘n kranige swemmer en het verskeie provinsiale swemprestasies behaal in sy swemloopbaan. Hy was ook ‘n kranige jagter wat gereeld saam met sy pa gejag het, en ‘n lid van die Bosveld Jagtersvereniging en die Maribashoek Skietklub.

Na skool het hy LLB aan die Universiteit van Pretoria studeer en na ‘n kort loopbaan as prokureur, is hy toegelaat as advokaat.

Hy het gepraktiseer in die Pretoria Balie (Sirkelkamers) tot en met sy afsterwe. Handré was woonagtig in Pretoria en enkellopend ten tyde van sy afsterwe.

‘n Roudiens is waargeneem op 21 Junie 2023 deur ds. Peet Venter vanuit die N.G. Kerk Potgietersrus. Handré se afsterwe is ‘n groot skok vir sy familie en die gemeenskap van Mokopane.

Sy skielike heengaan word diep betreur deur sy ouers, Ford & Isabelle, vriende en die gemeenskap van Mokopane.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version