Local News

‘n Lewe in oorvloed vir afgestorwe Oom Boet (95)

Oom Boet is op 5 Junie in die hospitaal opgeneem na hy weer 'n beroerte gehad en virusinfeksie en longontsteking opgedoen het.

POLOKWANE – Op 24 Februarie vanjaar vier oom Boet de Jager sy 95ste en laaste verjaarsdag.

Dit, nadat hy verlede jaar nog volmoed was om ‘n volle 100 jaar oud word.

Hy is op 16 Junie oorlede.

Sy vrou, Hettie vertel dat sy en Oom Boet sedert 1972 in dieselfde huis in Polokwane gewoon het.

Hy is in Brakpan gebore en het in die Krugersdorp/Randfontein-area grootgeword. Na skool het hy sy vakmanskap in Braamfontein voltooi.

In Julie 1962 trou hy met die liefde van sy lewe. Twee kinders, Deon en Alloëta word uit die huwelik gebore.

Boet was lank werksaam by die lugmagbasis, en op myne waar hy elektriese pligte ondergronds gehad het.

Toe hulle kinders nog jonk was, het Oom Boet egter ‘n beroerte gehad, wat hom verlam gelaat het aan die regterkant van sy lyf. Sy veggees het gesorg dat hy terugbaklei. Teen die tyd wat hy 82 was het hy ‘n hartaanval en vier hartomleidings gehad. Hy het tot kort voor sy dood nog gereeld in die tuin gestap en die talle plante bewonder.

Deon sê sy pa was oor die algemeen gesond en het net met sy gehoor gesukkel.

“Hy sou my ma sommer gryp en dan die sitkamer vol met haar dans. Hy het ook gereeld nog die skottelgoed gewas.”

Oom Boet is op 5 Junie in die hospitaal opgeneem na hy weer ‘n beroerte gehad en virusinfeksie en longontsteking opgedoen het.

Hy was vir 11 dae in die hospitaal waarvan vyf in die intensiewe sorgeenheid was.

“My pa was ‘n yster van ‘n pa, oupa en eggenoot. Hy was baie streng met ons, maar ook ‘n liefdevolle mens. Hy was lief om te gee en niks was ooit vir hom moeite nie. Hy wou almal help waar hy kon,” onthou Deon.

Oom Boet word ook beskryf as vrygewig, liefdevol en behulpsaam, iemand wie se hande vir niks stil gestaan het nie.

“Hy het ons geleer hoe om respek vir ander mense te hê. Hy was ‘n vegter en het nooit gaan lê nie, hy het tot op die einde aanhou stap om fiks te bly. Hy het baie hoë standaarde gehad en vir ons gestel.”

Hy word oorleef deur sy vrou, twee kinders, twee kleinkinders en ‘n agterkleinkind.

Sy roudiens was Vrydag vanuit die Geloofsbond Gemeente Noordelike Pietersburg.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button