Hof gee datum vir Oberholzer-moordsaak

Fortune Mahlatse Sebone (19) is aangekeer nadat Lindie Oberholzer op 18 Augustus 2022 in haar huis aangeval en vermoor is.

POLOKWANE – Ongeveer 10 maande nadat Lindie Oberholzer (52) helder oordag in haar huis aangeval en vermoor is, het die familie ‘n datum vir die saak in die hooggeregshof gekry.

Oberholzer was ‘n geliefde inwoner, en alombekend as die “biltongvrou” wat by Vleislapa in Marshallstraat gewerk het.

Fortune Mahlatse Sebone (19) is aangekeer nadat Oberholzer op 18 Augustus 2022 in haar huis aangeval en vermoor is.

Murder accused Fortune Mahlatse Sebone (19) appears before the Polokwane Magistrate’s Court. Photo: Maretha Swanepoel (Polokwane Review)

‘n Paar dae later het Sebone by ‘n ander huis in Bendor ingebreek, en ‘n rusie tussen hom en die huiseienaar het tot sy arrestasie gelei. Volgens bronne het hy skuld erken teenoor die owerhede oor Oberholzer se moord.

Sedert sy eerste hofverskyning op 26 Augustus, is sy borgaansoek telkemale uitgestel.

Daar is vasgestel dat hy nie ‘n vaste adres het nie en glo of by die bushalte of by die taxi-halte slaap.

Die hof het Sebone se familie gekontak om te hoor of hy by hulle woon, maar hulle het gesê hulle wil niks met hom te doen hê nie.

Lees ook: Man aangeval vyf maande na sy vrou se moord

Sebone is vroeër aan ander misdade skuldig bevind, insluitend huisbraak, gewapende roof, die gebruik van ‘n motor sonder die eienaar se toestemming en diefstal.

In Februarie 2022 is hy tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis, waarvan die volle tydperk opgeskort is vir drie jaar.

In Oktober het hy sonder enige regshulp in die hof verskyn en het tot sy laaste verskyning aangedring om homself te verteenwoordig.

Nadat hy egter weer bewus gemaak is van die klagtes teen hom, het hy besluit om regshulp in te win.

Die nadoodse verslag dui aan dat Oberholzer met ‘n stomp voorwerp teen die kop geslaan is, wat tot erge bloeding gelei het.

Haar dogter, Antonette Koekemoer, sê dit is goed om uiteindelik ‘n verhoordatum te hê.

“Dit sal reeds meer as ‘n jaar na my ma se dood wees wanneer die saak voorkom. Dit is steeds baie moeilik vir almal van ons, veral vir my stiefpa, Obie. Hy is nie op ‘n goeie plek nie en na sy aanval vroeër die jaar, is dit net erger. Ons hoop hy sal die verhoor bywoon.”

Sebone word aangekla van huisbraak met die doel om te roof, roof met verswarende omstandighede, moord en poging tot moord.

Die sake sal tydens een verhoor aangehoor word. Die verhoordatum is vasgestel vir 2-6 Oktober in die Limpopo Hooggeregshof.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version