Local News

Tot weersiens, Burgemeester Marlene

Van Staden, wat verlede jaar met stadium vier borskanker gediagnoseer was, was voor haar dood vir virale breinvliesontsteking gehospitaliseer.

POLOKWANE – Die tragiese heengaan van Modimolle-Mookgophong Burgemeester, Marlene van Staden verlede Donderdag word vanuit talle oorde diep betreur.

Van Staden, wat verlede jaar met stadium vier borskanker gediagnoseer was, was voor haar dood vir virale breinvliesontsteking gehospitaliseer.

Die DA se nasionale leier, John Steenhuisen, was onder baie wat sy empatie uitgespreek het.

“Behalwe dat Marlene die DA se enigste burgemeester in Limpopo was, was sy ’n baanbreker politikus en staatsamptenaar wat geweldige struikelblokke in die Modimolle-Mookgophong Munisipaliteit oorkom het.”

Hy het bygevoeg dat sy diep geliefd was onder partylede, in haar provinsie en in die gemeenskap waar sy ‘n dinamiese en reguit burgemeester was.

“Sy was toegewyd, veerkragtig en ‘n kragbron van die plaaslike regering. Haar krag van oortuiging en pure vasberadenheid is versag deur ‘n wonderlike sin vir humor en sagte vriendelikheid.”

Talle mense uit die plaaslike gemeenskappe het hul skok op sosiale media uitgespreek, ‘n getuigskrif van haar werk en bewonderenswaardige lewenslus.

TLU SA se Noordstreek, asook die Waterberg DLU en die Potgietersrus DLU, wat prominente bedieningsgebiede was waar sy betrokke was, het ook hulde aan die ontslape burgemeester gebring.

Beide Henk van de Graaf, TLU SA se streekvoorsitter en ook voorsitter van die Waterberg DLU, en Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus DLU het Van Staden beskryf as ‘n besonder dapper vrou wat haar nie deur haar siekte laat onderkry het nie.

“As iemand wat self die plaaslewe intensief beleef het, het sy deurentyd ’n passie vir landbou gehad en haar deur was oop vir georganiseerde landbou. Ons het as landbou-unie op verskeie vlakke hartlike met haar saamgewerk. Daarom is haar heengaan ’n verlies vir landbou in die Waterberge en omliggende gebiede wat sy as burgemeester gedien het. Ons hoop dat die goeie werk wat sy met passie begin het, deur haar opvolger voortgesit sal word,” het hulle opgemerk.

Sy word oorleef deur haar man en twee jong seuns, en haar gedenkdiens het op Vrydag, 16 Junie by Castle de Wildt buite Modimolle plaasgevind.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button