Local News

Sonkragverligting vir Ons Tuiste

By ouetehuise soos Ons Tuiste veroorsaak beurtkrag egter nog groter uitdagings, aangesien die suurstofmasjiene nie sonder elektrisiteit kan funksioneer nie.

POLOKWANE – Inwoners se afhanklikheid van krag word daagliks deur beurtkrag en ander kwessies uitgedaag.

By ouetehuise soos Ons Tuiste veroorsaak beurtkrag egter nog groter uitdagings, aangesien die suurstofmasjiene nie sonder elektrisiteit kan funksioneer nie.

Die Rotary Klub van Pietersburg 100 het hierdie probleem opgemerk en besluit om geld bymekaar te maak en ‘n sonpaneelstelsel by die verswaktesorgeenheid te installeer.

“Ons het tot baie onlangs twee inwoners gehad wat van suurstofmasjiene afhanklik is. Elke keer wanneer die kragopwekker moet oorvat is daar benoude oomblikke waar ons wonder of dit gaan gebeur. Die een inwoner het nou die dag vir my gesê sy kan nou met ‘n geruste hart slaap met die wete dat daar krag is vir die suurstofmasjien,” sê Carin Meintjes, die bestuurder by Ons Tuiste.

Die ander inwoners het genoem dat die stilte wanneer hulle slaap baie welkom is.

Met die wat die kragopwekker nie meer dreun nie kry hulle beter rus in.

Volgens Meintjes was daar ‘n 400%-styging in die petrolaankope om die kragopwekkers aan die werk te hou vir die suurstofmasjiene.

Die sonpaneelstelsel voorsien krag aan twee kamers en ook ligte vir dié eenheid. Daar sal later gekyk word na panele om die geisers ook te laat werk.

Die geld wat gebruik is kom van die Polokwane Expo wat verlede jaar deur die Rotary Klub gehou is.

Volgens die president, Fred de Wit, is die wins wat op daardie dag gemaak is, in die projek ingeploeg.

“Die Limpopo Classic Car Klub het ook vir ons ‘n groot bedrag geskenk en Solar Vision het die installasie teen kosprys vir ons gegee, waarvoor ons baie dankbaar is.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button